Gallery
GEORGE NUUS - Sowat 100 vroue vanuit George en omgewing het Donderdagoggend, 12 Oktober, 'n heerlike oggend saam met die bekende radio-omroeper, Amore Bekker, geniet.
Daar is geskaterlag soos Bekker haar lewensfilosofie gedeel het met staaltjies uit haar verlede oor liefde - gewen en verloor - en die lesse wat daaruit geleer is. Selfs die King of Rock, Elvis Presley, het 'n draai kom maak met treffers uit die 70's.
Daneel Rossouw, landbou-ekonoom en hoof van verkope by Nedbank, het die manlike geslag verteenwoordig en het 'n baie interessante praatjie aangebied oor die huidige stand van die ekonomie en landbou in Suid-Afrika.
Tafels het gekreun onder heerlike eetgoed, southappies, koek en ander lekkernye terwyl sjampanjeproppe in die lug opgeskiet is.
Die heerlike jaarlikse geleentheid is deur Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) in Hoërskool Outeniqua se skoolsaal aangebied. Bekker het ook haar nuutste boek, Ek het 'n Engel gesien, tydens die geleentheid bekendgestel.
Die boek is gevul met stories wat Bekker ontvang het as voormalige RSG-aanbieder nadat sy luisteraars gevra het om hul ontmoetings met engele te deel.
"Die terugvoering was oorweldigend," sê sy. "En met elke storie was die versoek, 'Sit dit vir ons in 'n boek, asseblief'."
Cora de Beer (links) het saam met Patrys van den Berg, Wanda Jooste en Sharon van Vught, 'n dankie-sê geskenk aan Bekker oorhandig. Foto's: Kristy Kolberg
SSK se vrouedae
SSK se ryke tradisie is 92 jaar gelede op 15 Julie 1931 gevestig, toe nege boere bymekaargekom om die Swellendam Boere Koöperatiewe Vereniging te stig. Vandag, 92 jaar later, bou SSK en sy mense steeds onverpoos voort aan dié waardevolle erfenis en tradisies.
Een van die tradisies wat elke jaar in Oktober plaasvind, is die drie vrouedae waartydens SSK-lede se vrouens bederf word.
In 2023 is die geleenthede in Joubertina, George en Swellendam gehou. In 2024 sal dit in Aberdeen, Knysna en Riversdal plaasvind en in 2025 Uniondale, Heidelberg en Mosselbaai.
"Op die wyse kry elke streek se vrouens 'n beurt om bederf te word.
"Met ons vrouens kan ons die Drakens-berge kaalvoet uitklim," sê SSK se senior bestuurder van bemarking en kommunikasie, Annelie van Wyk.
Daneel Rossouw, die hoof van verkope in die landbouafdeling by Nedbank.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’