GEORGE NUUS - 'n Rugbywedstryd op die sportveld van Maraiskamp moes afgestel word as gevolg van die swak toestand van die veld.
Dit is deur Michael Louw, voorsitter van die sportkomitee van Parkdene, Maraiskamp, Borcherds en Conville bevestig. Hy is ook die ondervoorsitter van die Crusaders-rugbyklub. Die klub is een van die bekendste klubs in die SWD.
Die wedstryd wat afgestel is, sou plaasvind tussen Heidelberg en Crusaders.
Volgens Louw het 'n verteenwoordiger van die SWD-rugbyunie besluit om die wedstryd af te stel. Dit het voor die wedstryd gereën en daar is besluit dat daar nie op die veld gespeel kon word nie.
Louw het gesê die probleme met die veld het 'n lang aanloop.
Dit behoort aan die George-munisipaliteit en die instansie is verantwoordelik vir die instandhouding. Benewens Crusaders, maak die Parks United-sokkerklub ook daarvan gebruik.
Spelers van die sokkerklub oefen elke weeksaand daar terwyl die rugbyspelers op Maandag-, Dinsdag- en Donderdagaande op 'n deel van die veld oefen. Gewoonlik speel spanne van die rugbyklub Saterdae wedstryde daar en die sokkerklub Sondae.
Louw het gesê daar is een kleedkamer vir die tuisspan, 'n kleedkamer vir die besoekers, 'n kleedkamer vir die skeidsregters en een vir die publiek. Dit gebeur soms dat drie spanne van Crusaders op een dag wedstryde speel en al die spanne moet van die dieselfde kleedkamer gebruik maak.
Daar is tydelike pawiljoene langs die veld wat sowat 40 mense kan huisves en in 'n gehawende toestand is. Dit het al gebeur dat tot 5 000 toeskouers by van die wedstryde opgedaag het. Daar is ook nie 'n klubhuis waar spelers na wedstryde kan ontspan nie en geen behoorlike parkeergeriewe nie.
"Die toestand van die veld is skokkend en ons is bekommerd dat spelers se veiligheid in gedrang kan kom."
Die probleme by die sportveld is al onder die aandag van die munisipaliteit gebring. Die munisipaliteit se verskoning was elke keer dat daar nie geld is nie en daar is nie ander sportvelde beskikbaar nie.
Hy het benadruk dat sport baie belangrik is in die gemeenskap. "Om sport behoorlik te kan beoefen, moet daar behoorlike infrastruktuur wees."
Volgens Louw is hy van voorneme om die aangeleentheid onder die aandag van die Wes-Kaapse minister van kultuur en sport te bring.
George-munisipaliteit reageer
Shanold Marillac, waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste van die George-munisipaliteit, het in antwoord op vrae van die George Herald gesê die Maraiskamp-sportterrein behoort aan die munisipaliteit en is verantwoordelik vir die instandhouding daarvan.
Die uitdaging met hierdie spesifieke sportveld is dat die behoefte die beskikbare hulpbronne by verre oorskry. Die veld dien as basis vir 'n verskeidenheid sportspanne onder meer:
• Crusaders-rugbyklub (drie spanne),
• Parkdene Senior Sekondêr (drie spanne),
• Parks United-sokkerklub (twee spanne)
• Addisioneel tot hierdie is daar ook kleuterskole wat die geriewe gebruik asook ander instansies wat geleentheidsverbruikers van die perseel is.
Die munisipaliteit doen alles in sy vermoë om die geriewe met min hulpbronne so goed moontlik te onderhou. Een van die grootste uitdagings is dat die hewigste verkeer van die gerief in die wintermaande is. Dit maak die instandhouding moeilik omdat gras 'n lewendige organisme is en groei afneem tydens die kouer wintermaande. Dit is ook belangrik om daarop te let dat die munisipaliteit afhanklik is van die eindgebruiker met betrekking tot die gebruik van die veld en die bekamping van vandalisme tydens die gebruik.
Die munisipaliteit het 'n foto beskikbaar gestel wat geneem is tydens Februarie 2019 net voor die begin van die rugbyseisoen. Volgens Marillac is dit met die reënval en die swaar gebruik van die veld gedurende die besige seisoen, moeilik om die oppervlak in dieselfde goeie toestand te hou.
Die losstaande staal pawiljoene behoort aan die munisipaliteit en word beskadig tydens die vervoerproses na ander velde waar die betrokke spanne wedstryde speel. Hierdie praktyk is nie wenslik nie, aangesien die pawiljoene nie ontwerp is om gedurig heen en weer geskuif te word nie. Daar word gereeld herstelwerk aan die pawiljoene gedoen soos benodig.
Daar is een volledige ablusieblok op die perseel wat bestaan uit twee kleedkamers vir spanne, 'n skeidsregterkleedkamer, twee publieke toiletblokke vir mans en dames, en dit is rolstoel-vriendelik.
Die munisipaliteit prioritiseer sy rol as fasiliteerder met betrekking tot die beoefening en deelname aan sport deur die inwoners van George, gegewe die belangrike rol wat sport in die algehele welstand van ons gemeenskappe speel. Dis om hierdie rede dat die munisipaliteit ‘n sportbeleid het wat riglyne gee waarbinne sportdeelname gefasiliteer word.
Daar word tans 'n veeldoelige netbal/vlugbalbaan gebou en behoort binnekort klaar te wees. Die doel van die projek is om mense van die gemeenskap toegang tot hierdie tipe geriewe te gee om sodoende die deelname aan sport te stimuleer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'