GEORGE NUUS - Die voormalige plaaslike landdros Gerald Mentor (54), wat van bedrog aangekla is, is op Dinsdag 26 Oktober in die George-streekhof skuldig bevind op die alternatiewe aanklagte van vervalsing en uitgifting ná hy 'n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het.
Dié klagtes hou verband met voorvalle tussen April en Desember 2013 waartydens hy die departement van justisie mislei het met die aantal ure wat hy gewerk het by Thembalethu-hof, terwyl hy ook by die munisipale hof ander regspligte verrig het en daarmee 'n ekstra inkomste verdien het.
Mentor is op die alternatiewe aanklagtes tot twee jaar direkte tronkstraf, wat geheel opgeskort is vir vyf jaar, gevonnis.
Luidens die klagstaat was die beskuldigde se seniors nie bewus van die feit dat hy so min tyd spandeer het om werklike regterlike werk by die Thembalethu-hof te verrig nie. Indien hulle destyds van dié feit bewus gemaak is, kon hulle die beskuldigde aangesê het om pligte by 'n ander hof in George uit te voer.
Mentor se regsverteenwoordiger, Nico Smit van Nico Smit Prokureurs in George, het aan George Herald gesê hy was baie teleurgesteld toe sy kliënt besluit om 'n pleitooreenkoms met die staat aan te gaan aangesien hy daarvan oortuig was, en steeds is, dat sy kliënt onskuldig is aan enige misdryf.
"Ek is ook teleurgesteld dat, nadat die ondersoeker van die Landdroskommissie ons ingelig het dat hy sal aanbeveel dat geen klagte teen mnr. Mentor aanhangig gemaak word as hy bedank nie, en mnr. Mentor toe wel bedank het, daar steeds klagtes teen hom gebring is."
"Alhoewel mnr. Mentor slegs skuldig bevind is dat hy in die amptelike hofboek aangedui het dat sy hof 30 - 45 minute vroeër begin het as wat die hof eintlik gedoen het, begin die howe elke dag laat en sit selde vir 'n volle hofdag as gevolg van verskeie uiteenlopende uitdagings. Sy enigste "misdaad" was dat hy aangedui het dat die hof om 09:00 begin het, terwyl dit eintlik eers om 09:30 of 09:45 was.
"Hoekom dit in die belang van geregtigheid of die gemeenskap sou wees om hom uit te sonder om aangekla te word onder hierdie omstandighede, gaan my verstand te bowe," het Smit afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'