GEORGE NUUS - Terwyl nog 'n motor verlede Woensdag 21 Junie oor 'n krans op die Voëlklippad gestort het, het 'n vrou se liggaam Maandag 26 Junie by Glentanastrand uitgespoel.
Teen druktyd moes die lykskouing en die nadoodse ondersoek nog gefinaliseer word, dus kon die oorledene se identiteit nie bekendgemaak word nie.
Die lyk was reeds in 'n gevorderde stadium van ontbinding en DNS-toetse sal moontlik gedoen moet word om die identiteit te bevestig. Daar kan nog nie bevestig word of die twee voorvalle met mekaar verband hou nie.
Volgens 'n Wes-Kaapse polisieskakelbeampte, sers. Wesley Twigg, is die lyk aan forensiese patologiedienste oorhandig.
"'n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek," sê hy.
Sedert Oktober 2018 was daar reeds 11 noodlottige voorvalle op die Voëlklippad waarin voertuie betrokke was.
Veiligheidsmaatreëls
Verskeie veiligheidsmaatreëls, wat ten volle deur die munisipaliteit ondersteun word, is reeds op dié pad ingestel. Die munisipaliteit hou egter vol dat die pad nie hulle verantwoordelikheid is nie. George Herald het in die verlede (Maart 2021) berig oor veiligheidsversperrings wat langs sekere dele van die pad opgerig is.
Die munisipaliteit se kommunikasiehoof, Chantèl Edwards sê die munisipaliteit het in 2021 'n taakspan gefasiliteer wat bestaan het uit die verskillende rolspelers, insluitende die grondeienaar en lede van die Heroldsbaai se belastingbetalersvereniging, om stappe te ondersoek en te implementeer.
Meer as vyftig permanente 1,5 m-pale is deur 'n plaaslike besigheid om die draai by Hansie se Bank opgerig, en groot klippe is gebruik om die informele parkeerarea te sluit.
Pad nie gesluit
Edwards sê die pad is onder die jurisdiksie van die departement van vervoer en openbare werke en bied voertuie toegang tot gebiede van toerisme en ontspanningswaarde.
"Die pad word as veilig vir motoriste beskou as hulle versigtig bestuur en die padtekens gehoorsaam. Die geproklameerde pad loop oor privaat eiendom en 'n aansoek om die pad te sluit sal deur die grondeienaar gedoen moet word."
Wat sê die lesers?
Ná die laaste Voëlklip-voorval en die onlangse ernstige botsing by die lughawekruising waarin twee persone dood is, het George Herald talle kommentare van lesers ontvang.
Twee lesers wat verkies om anoniem te bly, het die volgende gestuur:
"As 'n inwoner van George deel ek my besorgdheid oor die gereelde selfdood insidente by Voëlklip en die hoë aantal ongelukke by die lughawepadkruising.
"Ek is bewus daarvan dat die George-munisipaliteit al verskeie kere om kommentaar gevra is, maar elke keer is die antwoord dieselfde - Voëlklip is privaat grond en die lughawepad is 'n provinsiale pad.
Plaaslike besigheidseienaars het al hulp aangebied deur fondse beskikbaar te stel vir die oprigting van 'n verkeersirkel om die verkeersvloei te verbeter, maar tot dusver is daar geen vordering in hierdie saak nie.
"Ek vertrou dat die DA-munisipaliteit kontak en/of bande het met die DA in die Wes-Kaap. Ek kan eenvoudig nie aanvaar dat die George-munisipaliteit niks doen om hierdie probleemareas of brandpunte aan te spreek nie. Ek daag die George-munisipaliteit uit om proaktief op te tree en 'n plan te ontwikkel om lewens te red."
Nog 'n inwoner sê sy weet mense sê dit gaan nie help om die pad na Voëlklip toe te maak nie, maar stem nie heeltemal saam nie.
"Ek dink daar is juis só baie voorvalle op daardie pad, omdat dit so toeganklik is. My voorstel is om 'n valhek by die ingang op te sit. Registreer die gereelde hengelaars en gee vir hulle 'n sleutel om die hek oop te sluit of werk op 'n kaartstelsel soos by baie van die veiligheidskomplekse. Toegang na die uitkykpunt kan steeds vanaf die strand bekom word.
"By die hek kan 'n bord opgesit word met suicide helpline-nommers op. Ek is seker hier is genoeg besighede in George wat tot so iets sal bydra. Miskien kan die hek verder af in die pad geplaas word met 'n veilige parkeerarea vir mense wat steeds hier wil stap, maar ten minste is daar dan iets om dié wat hul eie lewens wil neem, twee keer te laat dink.
"Ek wéét dis nie "die pad se skuld nie", ek weet die pad "is op privaat grond", maar ek is moeg om elke keer dieselfde ou storie en kommentaar van die owerhede te lees. Dit help nie om die blaam te verplaas nie. Dis ons as gemeenskap se plig om seker te maak daar word iets hieraan gedoen."
Munisipale terugvoer
Edwards sê George-munisipaliteit wil weereens aandui dat die Voëlklippad nie onder die gesag van die munisipaliteit val nie aangesien die betrokke grond in privaat besit is met jurisdiksie vir die grondpad wat onder provinsiale administrasie val. "Munisipale fondse kan dus nie bestee word aan grond waaroor die munisipaliteit nie besit of jurisdiksie het nie."
Rakende die lughawepad het Edwards gesê dat dit 'n provinsiale pad is. Konstruksie van die nuwe George Westelike verbypad word egter vir die 2023/24 finansiële tydperk beplan.
Die voorgestelde pad, naby die lughawe, verskil van die huidige paduitleg en 'n nuwe kruising word op die R102 aan die oostelike kant van die huidige kruising beplan.
Edwards sê George-munisipaliteit is nie bewus van enige privaat fondsinsameling in hierdie verband soos deur die briefskrywer aangedui nie.
George-burgemeester, Leon van Wyk, sê hy het in Mei vanjaar weer die veiligheids-aspekte rakende die lughawepad met die minister van infrastruktuur bespreek.
"Die Wes-Kaapse regering begin binnekort met padopgraderings. Dié ontwikkeling kan daartoe lei dat private ontwikkeling in die omgewing 'n impak het op verdere padopgraderings. Ons sal ook bespreek of verdere veiligheidsmaatreëls in die tussentyd ingestel kan word. Ons betuig ons meegevoel met die families van diegene wat hul lewens in onlangse voorvalle verloor het. Ons bedank ook die spanne betrokke by die gevaarlike werk van soek en redding op die Voëlklip-toneel," sê Van Wyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’