Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Lede van die Visvangersvereniging van George, onder leiding van Isaac Benjamin Barlow, het vanoggend, Dinsdag 14 Junie, voor die George-landdroshof vir 'n plakkaatprotes bymekaargekom.
Hulle was ook deur lede van die Gwaiing Action Group (Gag) ondersteun.
Die groep voel hulle regte word geskend deurdat toegang na visvanggate soos Blougat in die Pacaltsdorp-omgewing, deur plaaslike boere versper word.
"Ek vang al vis daar vandat ek 'n klein seuntjie is. Nou word daar heinings en versperrings opgesit sodat ons nie toegang het nie. Wat het van ons regte geword?" sê Shaun Hector, plaaslike visserman en 'n gemeenskapsleier van die omgewing.
Die protesaksie spruit uit 'n voorval waarin Hector glo verlede week deur 'n boer in die omgewing dreigemente en rassistiese kommentare toegesnou, en aangerand is ná hy en 'n groep vriende by Blougat gaan visvang het.
Volgens Hector het die voorval plaasgevind toe hulle op pad huis toe was.
"Ons was by ons voertuie op pad huis toe, toe die man langs ons stop en op ons begin skree. Hy het ons beskuldig daarvan dat ons sy heinings beskadig en gesê ons is h*tn**s wat nie daar mag visvang nie," sê Hector.
'n Konfrontasie het ontlont waarna die man weggery het.
VIDEO: Vissermanne vang slange oor regte
'n Saak is by die Pacaltsdorp-polisie aangemeld en die verdagte verskyn vandag in die hof.
Lees meer in Donderdag se George Herald en aanlyn.
Die groep wat vanoggend voor die hof bymekaargekom het. Foto’s: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'