GEORGE NUUS - 'n Bondel gesteelde elektriese kabels en gemors wat in 'n drein in O’Connellstraat in Rosemoor gestop is, het veroorsaak dat verskeie strate in die woongebied verlede week oorstroom het.
Amptenare van siviele ingenieursdienste moes spook om die kabels uit te kry wat aan ander vullis, soos volgestopte plastieksakke, koeldrankbottels en nog vele ander gemors vasgedraai was.
Volgens inligting van die direktoraat vir elektrotegniese dienste was dit kragkabels wat reeds van koper gestroop is.
Lionel Daniels, adjunkdirekteur van siviele ingenieursdienste, het gesê hulle kry gereeld klagtes oor die stormwaterstelsel wat nie behoorlik werk nie. Volgens Daniels is hierdie 'n tipiese voorval waarmee sy spanne bykans daagliks moet sukkel en wat dienslewering kelder.
In hierdie spesifieke geval het talle strate met die swaar reëns oorspoel weens een verstopte drein.
Dreine en oorstromings
Wonder jy ooit hoekom sekere gebiede meer oorstromings en rioolstortings het as ander? In die meeste gevalle kan die probleem direk verbind word met dit wat in die dreine afgaan.
Verkeerde goed wat in toilette afgespoel word, of wat in stormwaterafvoerpype gegooi word, is van die grootste oorsake van riool wat oorloop, verstopte dreine en oorstromings. Probleemitems sluit in, kosverpakkings, koeldrankbottels, dooie diere, meubels, sanitêre produkte en babadoeke wat in die mangate en afvoerpype gegooi word.
Om dreinpype skoon te maak is duur en kos die munisipaliteit geld en mannekrag wat vir iets anders gebruik kon word. Oorstromings weens verstopte dreine kan huise, motors en eiendom beskadig en kan selfs die oorsaak van verdrinkings wees.
Wees netjies
Die publiek kan help deur die area voor stormwatergate in die pad skoon te hou van blare en gemors. Moenie rommel strooi nie, hou dit in 'n swart sak tot vullisopteldag. Plaas babadoeke, koshouers, sanitêre produkte in ‘n plastiek inkopiesak, bind dit toe en plaas dit in ‘n swart sak.
Moenie die toilet as ‘n vullisblik gebruik nie. Gooi bourommel, voertuigbande en ander groot goed by die munisipale stortingsterrein of binne-in ‘n skepbak in u gebied.
Verjaag enigiemand wat vir kwaadgeld rondloop en probeer om dreindeksels oop te maak, of rapporteer dit by:
- Rapporteer onwettige stortings by omgewingsdienste: 044 802 290
- Verstopte riool en stormwaterpype by siviele ingenieursdienste: 044 801 9262/66
- Dooie diere vir verwydering by Tuinroete DBV: 044 878 1990
- Mense wat groot items in dreinpype gooi by wetstoepassing: 044 801 6350
- Dooie diere op die N2 vir verwydering by Sanral: 082 553 4878
- Of na-ure by George-munisipaliteit se nooddienste 044 801 6300.
Vandalisme en kragonderbrekings
Vandalisme van munisipale eiendom kos die George-munisipaliteit miljoene rande per jaar. Kabeldiefstal lei dikwels tot kragonderbrekings, wat rioolpompstasies en huishoudings beïnvloed, en dus 'n groot invloed het op dienslewering.
Gebiede waar sub-stasies, mini-substasies, straatligte en rioolpompstasies geteiken word, sluit in die industriële gebiede Tamsui en Pacaltsdorp, Rosedale, Lawaaikamp, Parkdene, Conville, Borcherds, Rosemoor, Blanco, Gwaiing en Thembalethu.
George-munisipaliteit het nog steeds die probleem van kriminele wat elektriese strukture klim, en hulself en ander se lewens in gevaar plaas deur hierdie kriminele en nalatige dade. George-munisipaliteit word gedwing om groot bedrae van die belastingbetalers se geld te bestee op die herstel van elektriese (en ander) netwerke wat gevandaliseer word.
Hierdie bates behoort ook aan die belastingbetalers en die munisipaliteit bestuur hierdie bates wat deur die publiek betaal word. Help George-munisipaliteit om ons bates te beskerm.
Meld oortredings soos kabeldiefstal by George-munisipaliteit aan, of by die naaste polisiekantoor. Rapporteer by 0860 044 044 of 044 801 6300 na-ure.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'