GEORGE NUUS - 'n Jong dowe vrou van George, Erica van der Merwe (22), wie se ma haar Vrydagoggend as vermis by die polisie aangemeld het, is Saterdag gevind nadat vasgestel is dat sy vermoedelik per bus op pad was na Durban.
Volgens haar ma, Daleen, wag sy vir bevestiging van 'n polisiespeurder, maar sy het Whatsapp-boodskappe van Erica ontvang om te sê sy is veilig in Durban.
Sy het weggeloop om by haar kêrel te wees. Van der Merwe sê sy sal eers gerus voel wanneer sy bevestiging van die speurder af kry.
Van der Merwe het haar dogter se foto gisteroggend (Saterdag, 30 April) op Georgiete Staan Saam se Facebookblad geplaas in die hoop dat iemand haar gewaar het.
Die Texas Grill-restaurant het haar in reaksie daarop gekontak om te sê dat sy wel in die restaurant gesien is.
"Ons het op 'n opname van 'n sekerheidskamera gesien dat sy wel by Texas Grill uitstap saam met 'n vrou wat haar daar kom soek het. Of sy 'n bus gehaal het of nie, kan ek nie vir seker sê nie. Ek kon dit nie bevestig nie," het Van der Merwe gesê.
"Haar kêrel se ma het Vrydagaand al gesê sy was op 'n bus. Sy het vanoggend (Sondag) blykbaar eers daar aangekom en haar kêrel se ma het haar daar kom haal by die busstop.
"Dit is baie, baie stresvol. Moet asseblief nie ouers blameer vir kinders se optrede nie. Jy kan jou kind leer wat jy wil, hulle doen soos hulle dink goed is. Die boodskappies wat ek gekry het, sê sy is oukei, sy is jammer sy het weggeloop, maar sy wil graag by haar vriend wees. Ek as ma se hande is afgekap. Sy is 22 jaar oud en sy wil die grootmenswêreld betree. Dan moet sy dit nou maar doen. Dis vir my bitter, bitter hartseer. Ek kan nie slaap in die nag nie. Ek dink nie ek gaan ooit slaap voordat ek haar weer in my arms vashou nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'