Gallery
GEORGE NUUS - Tydens 'n in diepte gesprek in George die afgelope naweek oor die uitdagings waarmee mense met gestremdheid moet saamleef, het die bekende radio- en TV-aanbieder, Martelize Brink, vertel hoe sy in haar lewe al moes sukkel in 'n wêreld wat ingerig is vir mense wat nie besef wat dit is om nie die gebruik van jou arms of bene te hê nie.
Die ATKV Sommer Net Ons van Pacaltsdorp het die gesprek Saterdag 25 November by die George-museum aangebied. Verskeie belanghebbendes is genooi.
Kruipend voor passasiers na toilet
Brink, wat in haar tienerjare verlam geraak het, het die inleidende gesprek by die geleentheid aangebied en die gehoor kon aflei dat sy nie stuit voor struikelblokke nie. Sy en haar suster het al verskeie oorsese reise saam onderneem, ten spyte van die uitdagings wat dit oplewer.
Een van haar aakligste ondervindings was op 'n Turkish Airlines-vlug toe sy noodgedwonge voor al die passasiers in die gang moes af kruip na die toilet omdat die vereiste gangrolstoel wat op die vlug moes wees, nie beskikbaar was nie.
Brink het gesê die Europese lande waar hulle was, was in baie gevalle minder toeganklik as Afrika. Sy het in Duitsland, Parys en sentrale Londen gesukkel met deure wat nie wyd genoeg was vir 'n rolstoel nie en trappe waar daar nie 'n rolstoelroete of -ingang was nie. Sy moes in Engeland eenkeer op haar sitvlak 40 trappe "afseil" omdat daar nie 'n hyser was nie.
Die doel van die oggend se gesprek was om sulke uitdagings op eie bodem te identifiseer en dan die pad vorentoe uit te stippel om oplossings daarvoor te bewerkstellig.
Onder die mense wat die oggend bygewoon het, was die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) se resiesdirekteur, Alewijn Dippenaar, kampioenswemmer Minke Janse van Rensburg, pastoor Jannie Horne van Eagle's Nest Ministries, mondskilder DiePatrick Botto, en Arri Seirlis, 'n lid van die presidensiële werkgroep op gestremdheid wat in Sedgefield woon.
Lees Donderdag meer in die George Herald, en aanlyn.
Arri Seirlis (links) dien op die presidensiële werkgroep op gestremdheid. Patrick Botto is 'n plaaslike mondskilder. Hulle was onder die belanghebbendes by die gesprek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’