GEORGE NUUS - Lede van die Gwaiingrivier-aksiegroep (GAG) is op die oorlogspad en probeer vasstel hoe die lewensredderstoring by Gwaiingriviermond afgebrand het. Die toring staan al 'n paar jaar en die aksiegroep het hard geveg om dit daar te kry.
Groot geheimsinnigheid omhul die afbrand wat waarskynlik in die vroeë oggendure van Saterdag plaasgevind het.
'n Klag van saakbeskadiging is reeds by die polisie in Pacaltsdorp gelê. Die strand en riviermond digby Pacaltsdorp is naweke en vakansietye 'n gewilde ontspanningsplek.
Blanché Benjamin, voorsitter van die Gwaiingrivieraksiegroep, bygestaan deur Donovan Hantam, mediawoordvoerder van die aksiegroep, het Dinsdag gesê hulle eis antwoorde.
Sy het Saterdag boodskappe ontvang dat die lewensred-derstoring afgebrand het. Sy het vir Valdon Muller, wat in beheer is van die nabygeleë karavaanpark en verantwoordelik is vir die instandhouding van die strandgebied, gekontak. Hy het aan haar bevestig dat die toring afgebrand het, maar het nie veel meer inligting gehad nie.
Volgens haar is daar geen ander skade nie.
"Iets lyk nie reg nie. Dis baie vreemd dat dit gebeur het. Dis teleurstellend dat iemand of individue dit gedoen het. Dit (die lewensredderstoring) is tot voordeel van die gemeenskap."
Die GAG is daar om te help dat die strand beskerm word en die veiligheid van strandbesoekers verseker word.
Die organisasie beplan om vroeg in April met dr. Michelle Gratz, George se waarnemende munisipale bestuurder, ontmoet om haar in te lig oor die situasie en die geskiedenis daar.
Hantam het gesê daar is munisipale verordeninge wat besoektye aan die strand bepaal. Volgens hom word dit net selektief daar toegepas.
Hy voel dat meer gedoen moet word om die soort voorvalle te keer. In die stadium kan hulle nie spekuleer oor wie daarby betrokke is nie.
Daar is 'n polisie-ondersoek aan die gang en hulle kan dit nie vooruitloop nie.
Muller het aan George Herald bevestig dat hy 'n klag by die polisie ingedien het. Hy het geen idee wie by die brand betrokke is nie.
Die toring voordat dit afgebrand het. Die foto is in November verlede jaar geneem. Foto: Eugene Gunning
Die munisipaliteit reageer
George-brandweerhoof, Neels Barnard, het gesê dit is Saterdag aangemeld toe lewensredders opgedaag het vir diens. Geen berigte van rook of vuur is die vorige aand ontvang nie.
Die toring is van veselglas gemaak en sal heeltemal vervang moet word. Toe dit in 2010 gekoop is, is die waarde geraam op meer as R150 000. Volgens hom is die toring sedert 2017 daar. Volgens Barnard is die beskadiging berekende vandalisme en dit is tot nadeel van die gemeenskap wat die strand gebruik. Dit word ten sterkste veroordeel.
Enigiemand met inligting oor die voorval, kan die Pacaltsdorp-polisie kontak by 044 803 9100.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'