HEROLD NUUS - Die toekoms van die Franken Primêr op Herold hang steeds in die weegskaal weens die De Villiers Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se voorneme om dit te verkoop.
Die gemeenteleraar, ds. David Elias, het tydens die afgelope twee Sondae se kerkdienste afgekondig dat onderhandelings vir die verkoop aan die gang is. Hy het sy eerste afkondiging op 15 November in die Eseljacht-gemeente se byeenkoms gemaak en die tweede op 22 November in die kerk op Herold.
Die grond waarop die kerk en skool geleë is, is in 1933 deur 'n boer met die van Truter beskikbaar gemaak vir 'n kerk en skool vir die plaaslike gemeenskap.
Truter het die plaas later verkoop aan 'n Joubert, wat met sy aftrede die grond aan die kerk laat oordra het.
Huur word deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aan die kerk betaal.
Die skool het 330 leerders. Volgens 'n ontstoke gemeentelid is Franken Primêr deur die jare opgebou deur die harde werk en toewyding van ouers, onderwysers en die hoof.
"Dit het klein begin met enkele klaskamers van sinkplaat tot die spogskool van vandag wat leerders tot gr. 9 inneem. Wat gaan word as ons nie meer 'n skool vir hierdie kinders het nie? Hulle sal so ver as George en Oudtshoorn toe moet reis. Dit is vir ons 'n groot stuk hartseer."
Vandag bestaan die skool uit drie steen- en drie asbesklaskamers. Die huidige prinsipaal, Moses Carolus, het 'n groot bydrae gelewer tot die uitbreiding van die skool en vestiging van 'n kantoor, rekenaarlokaal en kombuis. Die kinders word daagliks van twee maaltye voorsien.
Volgens die ongelukkige gemeentelid, wat anoniem wil bly, bepaal die Kerkorde dat die verkoop van kerkeiendom slegs deur die verkreë toestemming van die gemeente mag geskied.
"Daar moet drie agtereenvolgende afkondigings in die gemeente wees. Daarna volg 'n gemeentevergadering waartydens 'n tweederde meerderheid van die gemeente teenwoordig moet wees."
In 'n skrywe aan die skriba word 'n groot aantal gemeentelede se ontevredenheid verwoord. Volgens die brief, voer hul leraar aan dat die kerkraad en "deskundiges" besig is met onderhandelings om die skool te verkoop, en dat die kerk die skool nie langer kan "dra" nie.
Die brief lui, "Die Gemeente De Villiers teken beswaar aan hierteenoor, want die skool is hul trots en is die gemeente se volhoubare inkomste. Ook wil ons onder u aandag bring dat hy (die dominee) genoem het dat dit die tweede afkondiging is, want die eerste afkondiging was reeds die vorige Sondag 15 November in die wyk Eseljacht gedoen. Die derde afkondiging, volgens ds Elias sal dus weer komende Sondag 29 November binne die Eseljacht-wyk plaasvind."
Volgens die brief was daar slegs ongeveer 10 persone in die kerk, die kerkraad ingesluit, toe die afkondiging die afgelope Sondag gemaak is.
Volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het hulle 'n brief op 2 September vanjaar van die kerk ontvang aangaande die grondeienaar se besluit om die grond te verkoop. Die departement het die eerste opsie om te koop. Dit verval op 30 November.
"Ons is in konsultasie met ons regsadviseurs in hierdie verband," het Bronah Hammond, die woordvoerder, gesê.
'Ons bring jou die nuutste Herold, Tuinroete nuus'