Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Taverne-eienaar van George veg tans om haar taverne in Swawelstraat, Conville, te behou. Red Lion Lounge, soos die kuierplek deesdae bekendstaan, is minder as 'n jaar gelede aan Lauren Prince en haar suster, Kelly-Kay Prince verkoop.
Lauren Prince en die vorige eienaar, die gewese George-raadslid Rosina Lombaard, beveg tans 'n hofsaak in die hooggeregshof wat deur George-munisipaliteit gedryf word.
Lombaard was destyds die sweep van Icosa. Sy is tans 'n lid van die Good-party en was 'n wykskandidaat vir Good met die laaste verkiesing in 2021. Sy staan in die gemeenskap bekend as "Ousie" en het die eiendom van haar pa geërf.
Die kuierplek het vir 'n lang tydperk as Rosina's Tavern bekendgestaan en is volgens Lombaard al vir 23 jaar gelisensieer.
George-munisipaliteit is die aansoeker in 'n hofsaak waarin Prince, Lombaard en die Wes-Kaapse Drankowerheid respondente is. Dié saak is op Vrydag 27 Januarie by die hooggeregshof in Thembalethu aangehoor waar dit deur die respondente geopponeer is.
Die saak sal weer op 20 Oktober aan-gehoor word nadat die nodige administratiewe prosesse verloop het.
George-munisipaliteit se woordvoerder, Chantèl Edwards het by navraag gesê hulle sal geen kommentaar lewer nie, aangesien die saak sub judice is.
VIDEO: Regsman gesels oor hofsaak teen Red Lion Lounge
Hersonering
In kort redeneer die aansoeker dat die taverne onwettig bedryf word, aangesien die eiendom nie gesoneer is as 'n besigheid nie. Die regsverteenwoordiging van Prince en Lombaard voer aan dat die perseel oor die nodige en wettige dranklisensie beskik, wat deur die Wes-Kaapse Drankowerheid uitgereik is.
"Destyds, toe die lisensie uitgereik is, was dit nie nodig om sonering vir 'n besigheid te hê nie," het Clayton Samson, Prince en Lombaard se regsverteenwoordiging, gesê.
Die probleme het blykbaar ontstaan toe Prince deur die munisipaliteit versoek is om 'n aansoek vir hersonering in te dien. Met haar aansoek in Julie verlede jaar is Prince egter ingelig dat die munisipaliteit 'n saak gaan maak.
Red Lion Lounge is sowat 200 m van Laerskool Conville geleë, wat vir sommige lede van die gemeenskap 'n probleem is. Ander voel egter dat die kuierplek geen probleem veroorsaak nie en beskryf die nuwe eienaar, Lauren Prince, as iemand wat uit haar pad uit gaan om die gemeenskap te help (sien die opinies in 'n aparte artikel in George Herald koerant).
Clayton Samson van Jansen & Samson Attorneys in George by Thembaletu-landdroshof, Vrydag 27 Januarie toe die saak voorgekom het.
Petisie
'n Petisie het in die woonbuurt die ronde gedoen waar lede van die gemeenskap gevra is om hul stem te gee vir die verwydering van die taverne. Een dame, wat graag anoniem wil bly, het gesê sy het dit geteken, want dit gaan oor veiligheid in die wyk. Sy het bygevoeg dat sy geen probleem met die taverne het nie. Die petisie is opgetrek deur die DA-wyksraadslid Brendon Adams, wat by navraag bevestig het dat hy dit op versoek van die publiek gedoen het.
Volgens Lombaard het sy jare terug reeds haar eiendom verklaar, toe sy 'n Icosa-raadslid was. Sy voer aan dat die saak teen die taverne spruit vanuit 'n voorval destyds met die laaste verkiesing tussen haarself en die DA-kandidaat, Brendon Adams. "Hierdie is 'n persoonlike storie," het Lombaard gesê. "Van die name op die petisielys is in die gevangenis, ander is minderjarig, soms teken een persoon vir twee mense."
Die moord
Volgens Lauren Prince het die negatiwiteit oor die taverne begin na 'n moord verlede jaar wat in Swawelstraat plaasgevind het. Adams het glo op Facebook melding gemaak van 'n moord wat in die taverne plaasgevind het. Die inskrywing is later verander om aan te dui die liggaam is buite die taverne gevind. Volgens Prince is die persoon se liggaam verder af in die selfde straat gevind.
Brendon Adams het by navraag bevestig dat hy deur die munisipale prokureur aangeraai is om nie oor die saak te praat nie. "Daar was 'n moord gewees, maar hulle sê dit het nie by die tavern gebeur nie, maar die persoon se lyk is oorkant die tavern gekry," het Adams gesê.
"Toe het die gemeenskap my gevra wat hulle moet doen, want hulle is moeg vir die tavern. Ek het vir hulle gesê die enigste ding wat ek weet wat gaan werk is as daar 'n petisie kom.
"Die gemeenskap en die buurtwag het self daarmee gewerk. Ek word aangeval op Facebook en is nou die scapegoat vir die saak. Dit is nie ek wat 'n saak teen Rosina gemaak het nie, dit is die munisipaliteit. Daar is geen bad blood tussen my en Rosina nie."
Rugbywedstryde en potspel (pool) is 'n trekpleister in Red Lion Lounge. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'