Met 'n seer hart het vrywilligers weer begin aanplant en is aangespoor deur tannie Greta, skepper van die malvaprojek. Haar gunsteling gesegde is: 'Ons moet net aanhou om aan te hou.'
Tannie Greta sê hulle het besef wanneer daar baie mense saamdrom en van die voetgangers van die sypaadjie afgedwing word, 'n bedding sonder 'n soort versperring maklik vertrap word. "Ons het toe besluit om sparre rondom die beddings in te slaan en rooi en wit band om dit gespan."
Hierdie jaar was die skade gering en daarvoor sê tannie Greta se malvaprojekspan baie dankie aan die feesgangers. "Nou het ons weer moed om aan te gaan met die verfraaiing van George se middedorp en hoop dit sal bydra om die middedorp te red van agteruitgang, iets waaroor besighede en die publiek baie bekommerd is."
Voor die Toerismeburo in Yorkstraat is daar 'n pragtige ontploffing van kleur waar 'n groot verskeidenheid malvas al vir 'n paar jaar deur tannie Greta en haar span aan die lewe gehou word deur maandeliks onkruid te verwyder, die plante te snoei en te besproei gedurende droë tye. Onder toesig van vrywilligers word die werkers betaal uit geld wat gemaak word deur selfvervaardigde blombakke te verkoop, donasies van die publiek sowel as fondsinsamelingsprojekte, maar ongelukkig is dié bron nou uitgeput.
Ken Gie, nog 'n groot dryfveer agter die projek verduidelik, "Tannie Greta het by die George-munisipaliteit aansoek gedoen vir geldelike hulp nadat 'n verslag aan 'n raadslid gerig is. Behalwe vir die werkskeppingsgeleentheid, is die potensiaal dat duisende malvas George se sentrale sakegebied in 'n toeriste aantreklikheid kan omskep en so die middedorp kan help oorleef, baie groot. Tot dusvêr is daar nog geen terugvoering van die raad nie."

Tannie Greta Gericke se malvas blom pragtig in die George Toeristeburo se beddings. Foto: Ken Gie