GEORGE NUUS - Inwoners van Syferfontein-plakkerskamp wat nie tydens die eerste fase van die Erf 325-projek 'n huis ontvang het nie sal wel nog geholpe raak, mits hulle aan die kwalifikasies en vereistes vir 'n subsidie voldoen.
So het die munisipale waarnemende direkteur van menslike nedersettings, Lauren Waring, gesê, na aanleiding van kommer by diegene wat nog wag vir 'n tuiste.
Syferfonteiners wat droë bek wag vir 'n huisie in die nuwe behuisingsontwikkeling duskant Rosedale is benoud dat hulle oorgesien gaan word. 'n Onlangse informele vergadering met George-raadslid Virgill Gericke, het vir hulle 'n geleentheid geskep om hul kommer te lug.
Een van die inwoners, wat anoniem wil bly, het aan George Herald gesê sy is bang sy verloor 'n kans op 'n huis, omdat haar eksman jare gelede 'n stuk grond elders in die Suid-Kaap ontvang het.
"Toe ons skei kry ek die kinders en die meubels, terwyl hy die erf en die kar gevat het," het sy gesê. "Nou lyk dit of ek al reeds grond van die staat ontvang het. Ek is baie benoud. My kleinkind is gestrem en ek en my kinders bly al jare in Syferfontein."
Volgens Gericke is daar heelwat gevalle van die aard wat uitgesluit word by behuisingsgeleenthede. "Ek doen ‘n beroep op die munisipaliteit en provinsiale departement van menslike nedersettings om deeglike ondersoek te doen alvorens hulle mense van ‘n behuisingsgeleentheid ontneem," het Gericke gesê.
"Daar is baie misinformasie wat rondgeslinger word. Ons het hulle [die inwoners] gevra om geduldig te wees totdat die proses van toekenning voltooi is. Dit is nie waar dat mense uitgesit gaan word nie. Daar moet voorsiening gemaak word vir elkeen wat in Syferfontein bly. Verskillende opsies word oorweeg om mense te help, selfs al word ‘n huis nie aan hulle toegeken nie."
Bring dokumente
Waring het by navraag gesê dat individuele behuisingsgevalle nie via die media aangespreek word nie. Waring moedig die individu sterk aan om die munisipale Bestaande Behuisingskantoor (langs die kliniek agter die munisipale geboue) te besoek om haar geval te bespreek, en alle dokumentasie ten opsigte van haar egskeiding, vorige huisakte en haar gestremde kleinkind na die kantoor te bring wanneer sy hulle besoek.
Vul vorms in
Waring het verder benadruk dat diegene wat nie met die eerste fase van die Erf-325 behuisingsprojek geholpe is nie, so gou moontlik moet reageer op kennisgewings om subsidie-aansoekvorms te voltooi. "Daar is 15% van hierdie behuisingsprojek aan persone 60 jaar en ouer toegeken. Laasgenoemde hang egter af van die persone wat die langste op die waglys geregistreer is," het Waring gesê.
"Sodra die Covid-19-pandemie kalmeer en regulasies dit toelaat sal daar ‘n vergadering met inwoners van Syferfontein gehou word om verdere verwikkelinge met hulle te bespreek."
Diegene wat sukkel met die nodige dokumentasie kan die kantoor, Nuwe Behuising (ou-Salamgebou St Johnstraat) besoek sodat die amptenare kan bepaal in hoe ‘n mate hulp moontlik verleen kan word. Diegene wie se name nie op die behuisingswaglys is nie moet by Bestaande Behuising (langs kliniek) gaan registreer.
Volgens Muneera Allie van die provinsiale departement van menslike nedersettings, het George-munisipaliteit die afgelope 16 maande verskeie uitnodigings aan die gemeenskap gerig vir inwoners om hul besonderhede op die databasis by te werk, indien persoonlike omstandighede moontlik verander het sedert die eerste registrasie.
Allie het bevestig dat behuisingsgeleenthede slegs toegeken kan word aan kwalifiserende begunstigdes op die munisipaliteit se behuisingsdatabasis: "As die regering verseker ons dat die kwesbaarste, bejaardes, gestremdes en die langstes op die waglys geprioritiseer word vir beskikbare geleenthede. Gemeenskapslede wat tans nie kwalifiseer nie, is byvoorbeeld óf te jonk óf het die afgelope jare geregistreer en is dus nie lank genoeg op die waglys nie. Daar is verskillende redes waarom 'n inwoner nie kwalifiseer vir staatsbehuisingshulp nie."
Drie-jaar beleid
Persone wat vir minder as die afgelope drie jaar op die behuisingswaglys geregistreer is, word volgens ‘n skrywe van die Wes-Kaapse departement menslike nedersettings nie vir behuisingsubsidies oorweeg nie. Maar, indien daar ‘n Sassa-geregistreerde gestremde afhanklike in die huishouding is, word aansoekers nie in terme van die toekenningsbeleid onderwerp aan die drie-jaar waglysperiode nie.
Persone wat met dokumentasie kan bewys dat hulle nie finansieel voordeel getrek het in terme van ‘n egskeiding of boedel uit die huis nie, en op voorwaarde dat sulke persone aansoek doen dat hul naam van daardie huis se akte verwyder word, kan weer aansoek doen en die provinsiale minister (MEC) van menslike nedersettings sou so ‘n aansoek moet oorweeg en goedkeur.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'