GEORGE NUUS - 'n Rol staal lyk dalk nie so indrukwekkend nie, maar om dit te skuif en op te lig is die hulp van swaargewigte nodig.
'n Trok van SP Logistics het Donderdagnag die pad by die Sasol-sirkel op die N2 op pad na Wilderness verlaat, die ou treinrestaurant rakelings gemis en op die grasperk voor George Country Resort tot stilstand gekom.
Sy vrag, 'n rol staal van 24ton, het op die grasperk beland. Die trok is die oggend verwyder, maar weens die reën kon die insleepdiens nie dadelik die rol verwyder nie.
Sondag het twee swaarvoertuigherwinningstrokke van Star Truck & Car in George probeer om die rol te lig, maar kon na agt ure slegs daarin slaag om dit tot by die pad te trek.
Maandagoggend is die hulp van Coastal Rigging & Scrap Metal van Mosselbaai ingekry. Hulle moes ook eers ekstra gewigte laai om uiteindelik die rol staal te lig en weer op 'n trok te laai.
Dit was sekerlik die grootste en duurste herwinningsoperasie van 'n enkele rol staal, wat al in George plaasgevind het.
In Star Truck & Car se tweede poging om 'n rol staal te verwyder word twee herwinningsvoertuie gebruik. Foto: Emsie Martin
Na agt ure se geswoeg kon hulle die rol slegs tot by die pad kry en moes die hulp van Coastal Rigging & Scrap Metal van Mosselbaai ingeroep word om te help. Foto: Emsie Martin
Uiteindelik, nadat daar ekstra gewigte op die kraan van Coastal Rigging gelaai is kon die rol gelig word. Foto: Edith Martin
Die rol uiteindelik terug op die vragmotor wat dit na sy bestemming moet neem. Foto: Edith Martin
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'