GEORGE NUUS - Stel jou voor: Jy is gesond en jy geniet Desember saam met jou gesin en baie ander mense, terwyl julle die son by 'n getypoel by die see geniet. Wanneer jy klaar is, sukkel jy om uit die water te klim. Uiteindelik verander jou lewe ingrypend en dit raak jou fisiese beweeglikheid. Vir twee en 'n half jaar moet jy van 'n rolstoel gebruik maak.
Iemand wat hiervan kan getuig is Sumari le Roux van George.
Dit wat die afgelope paar jaar op haar lewenspad gekom het en hoe sy dit oorwin het, dien as inspirasie vir ander. Sy het Maandag 23 Oktober gesê haar geloof in die Here en 'n goeie ondersteuningstelsel soos haar gesin, is die vernaamste redes dat sy die groot krisis in haar lewe kon oorkom.
Dis 'n lang reis vol uitdagings wat sy agter die rug het en volgens haar het dit haar 'n ryker mens gemaak. Trouens sy help nou ander mense.
Alles het in Desember 2017 verander. Sy en haar man Lorenzo het 17 jaar gelede na George verhuis. Hulle het twee dogters. Die betrokke dag het hulle gaan afkoel in die getypoel by Heroldsbaai. "Ons het gaan swem. Toe ek klaar was, kon ek nie uitklim nie. Ek was soos 'n dronkie wat nie kon regopstaan nie".
Sumari le Roux en haar man Lorenzo toe sy in ‘n stadium in die hospitaal was.
Dit het as 'n groot skok gekom want sy was tot op daardie stadium baie gesond. Sy en haar man was lief vir die buitelewe en het graag gaan stap.
"Die dag het my voete ewe skielik dood gevoel. Ek het gesond in die water gegaan en toe ek wou uitkom het my voete begin ingee. My man het my uitgehelp."
Hulle het besef sy het hulp nodig. Dit was Desember en mediese spesialiste was met verlof.
In Januarie wou sy 'n dokter gaan spreek, maar moes wag vir 'n afspraak.
Op 18 Januarie het sy geval en kon nie regop kom nie. Dit was 'n noodsituasie en 'n afspraak is inderhaas toegestaan en verskeie toetse is gedoen. In Maart 2018 is sy met veelvuldige myeloom en POEMS-sindroom gediagnoseer, en het met behandeling begin. Sy het in 2018 chemobehandeling ontvang wat vir twee jaar aangehou het. In 2020 het sy 'n stamseloorplanting gehad. Op die oomblik gebruik sy chemotablette. Sedert einde 2022 gebruik sy nie meer 'n rolstoel nie en gebruik op die oomblik krukke om te loop.
In 'n stadium het sy die Here gevra oor die doel van haar lewe.
In 2020 het sy by kaasmakery betrokke geraak en dit het vinnig uitgebrei. Later het sy afgeskaal en deesdae leer sy ander mense om kaas te maak. Sy is optimisties oor die toekoms en lei so ver moontlik 'n gewone lewe.
Daar is by haar geen twyfel dat sy dit nie sonder die Here sou gemaak het nie, en mense wat in 'n soortgelyke situasie beland moet dit onthou.
Sumari le Roux en haar man Lorenzo.
Sumari le Roux besig met 'n les oor die maak van kaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’