GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap Kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart, het die afgelope naweek 'n blitstoer na Kaapstad onderneem om aan die Choral Celebration Network Foundation se vyfde nasionale koorkonsert in die Kaapstadse stadsaal deel te neem.
Tydens dié glansryke geleentheid in 'n volgepakte stadsaal het die SKKK die verhoog met van die beste kore in die Wes-Kaap gedeel, onder andere die Stellenbosch-kinderkoor, die Suid-Afrikaanse Jeugkoor, die Eikekoor, Paul Roos Gimnasium-koor, Viva Cantare en die Dal Cuore Ensemble.
Koorkenners en die uitgelese gehoor was dit eens dat die SKKK, wat 06:00 Saterdagoggend vanaf George per bus gereis het, een van die topkore van die aand was.
Die lede van die SKKK verteenwoordig gekeurde skoolkoorlede van onder meer LS Knysna, LS Outeniqua, Holy Cross Primary, LS Denneoord, Glenwood House Preparatory, LS Hartenbos, LS Bertie Barnard (Stilbaai), LS Wesbank (Oudtshoorn) asook verskeie tuisskole wat weekliks in hul eie sentra repeteer en twee keer per maand in George bymekaarkom.
Ná 'n besige Saterdag van reis, repeteer en konserthou, is die koorlede by 'n restaurant in Canal Walk getrakteer om hul sukses te vier, voordat hulle na hul hotel teruggekeer het. Die groep het Sondagoggend tyd gehad om 'n bietjie in Canal Walk te ontspan voordat hulle die lang pad huis toe aangepak het.
Die SKKK beoog om in die komende maande verskeie glanskonserte aan te bied ter voorbereiding op 'n beplande oorsese konserttoer.
Voornemende lede wat daarin belangstel om 'n oudisie af te lê, word genooi om die dirigent, Jan-Erik Swart by 084 645 9320 vir 'n afspraak te kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'