Die George-tak van provinsiale verkeersdienste het al vier Blunden Coach Tours se busse kort ná 07:00 Dinsdagoggend op pad na NMMU van die pad getrek om die maatskappy se vervoerpermitte na te gaan.
Volgens Quinton Williams, operasionele bestuurder van die George- provinsiale verkeersdienste het die maatskappy se permitte gestipuleer dat hulle slegs NMMU-studente in Port Elizabeth van bepaalde punte na die Port Elizabeth NMMU mag vervoer. "Daar word geensins in die permitte se bepalings voorsiening gemaak dat Blunden Coach Tours studente in die George-omgewing mag vervoer nie."
Al vier busse is geskut en boetes van R2 500 per bus is aan die maatskappy uitgereik. Blunden Coach Tours se besigheidsbestuurder, Wilbur van Greunen het gesê dat hulle die aangeleentheid in die hof gaan beveg en 'n interdik gaan bekom om die busse terug te kry. "Ons permitte is geldig en ons gaan ook nie die boetes betaal nie. Ons handhaaf hoë standaarde en vervoer in Port Elizabeth alleen ongeveer 6 000 studente per dag."
Meer as 160 studente was as gevolg van die permitdispuut tot meer as twee ure laat vir hul klasse en tientalle van hulle het geskeduleerde toetse misgeloop.
Williams het verduidelik dat al die insittendes van die vier busse se besonderhede op rekord geplaas moes word. "Om hul besonderhede te bekom, moes hulle na die provinsiale verkeersdienste se kantore in Yorkstraat gebring word. Gerugte dat ons hulle gevange gehou het, is totaal onwaar. Dit was slegs 'n administratiewe proses wat gevolg moes word."
Een van die studente, Thurston Arries het by die verkeerskantore aan die George Herald gesê: "Ons is nooit ingelig oor wat aan die gang is nie en is in die war gelaat. Ons mis klasse en word die reg op opvoeding ontneem, waarvoor ons betaal het."
Nog 'n student, Constance Weber was duidelik ontsteld oor die gebeure. "Ons wil studeer en nou staan ons hier heeltemal oningelig oor wat aan die gang is. Ons moes al 07:45 ons eerste klas bygewoon het."
Die studente is later die oggend deur African Express-busse na Saasveld aangery. Volgens Williams sal die aangeleenheid na alle waarskynlikheid môre (Vrydag 6 September) in die George-landdroshof aangehoor word.

Quinton Williams, operasionele bestuurder van George se provinsiale verkeerstak, verduidelik aan Riaan van Zyl, veiligheidsbeampte van Saasveld NMMU, hoekom Blunden Coach Tours se busse geskut is. Foto's: Christo Vermaak
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'