GEORGE NUUS - Cremhog gaan binnekort twee datums bekendmaak vir hul fondsinsamelings-projek "slaap soos 'n daklose", waar besighede vir hul personeel plek kan bespreek om 'n unieke spanbousessie te ervaar.
Die doel van die projek is om so gou moontlik 'n afdak oor die Ithemba-sentrum se binnehof te bou.
Die gure winterweer verlede week het die bestuurspan van Cremhog (Christian Rehabilitation Ministries to the Homeless of George) duidelik laat besef daar is nog een ding wat verseker moet gebeur alvorens hulle hul eerste innames by die Ithemba-sentrum vir haweloses kan akkommodeer.
"Ons het 'n afdak nodig," het die bestuurder, André Olivier, gesê. Die projek sal sowat R200 000 kos. Die kostes dek die materiaal vir die afdak.
"Ons besef dat die inwoners hulself moet kan besig hou wanneer dit heeldag reën. Ons wil die binnehof toemaak, wat as eetsaal, rekreasiesaal en opleidingslokaal ingerig sal word. Hulle het spasie nodig, en dus gaan ons nou dringend moet fondse insamel om die afdak, wat deel is van die beplanning, so spoedig moontlik te bou."
Dis hoe Ithemba tans lyk, sonder 'n afdak oor die binnehof.
Met hul fondsinsamelingsprojek "slaap soos 'n daklose" sal besoekers eers 'n bietjie voel hoe dit voel om tussen kartonbokse te lê, maar ons het darem beddens vir gaste in die vier slaaplokale," het Olivier gesê.
"Ses mense kan in 'n slaaplokaal slaap, teen R3 000 per persoon.
"'n Besigheid kan 'n lokaal bespreek teen R20 000. Ons sal seker maak besighede ontvang 'n waarborg vir belastingdoeleindes."
Blykbaar sal gaste 'n maaltyd ontvang tipies soos die soort kos wat aan haweloses by die skuiling gegee sal word.
"Ons kyk na sop en brood, of pap en sous," het Olivier gesê. "Hulle sal ook die volgende oggend 'n skaflike ontbyt kry, uit ons eie kombuis!"
Brandon Paulse, Nicolette Augustus, "Pa Jess" Harker, Louise Ruiters en Marshall van Tonder.
'n Voorstelling van die sentrum met 'n afdak wat die binnehof bedek.
Mblelo Mbodli, Bradley van Wyngaardt, Brian Marais, Dyllan Collins en Marshell van Tonder. Voor is Alfonso Matthews. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’