Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 39-jarige man wat Sondag van vroegoggend tot na 18:00 aan die skiet gegaan het op 'n plaas op die Geelbeksvleipad buite Brandwag, het gister sy eerste verskyning in die Mosselbaai-landdroshof gehad.
Hy staan tereg op 'n aanklag van poging tot moord.
Die man het na bewering reeds vroegoggend Sondag 7 Januarie in die plaashuis waar sy ouers en 'n broer ook woon, begin skiet. Die familie het later die oggend, volgens inligting verskaf deur polisie, die plaashuis vrywillig en ongedeerd verlaat.
Die man is net na 18:00 na ure lange onderhandeling deur spesialis-eenhede, deur die polisie se taakmag onder bedwang gebring en in hegtenis geneem.
Ure lange onderhandeling
Lede van die Da Gamaskop-polisie asook ander nooddienste het net na 09:00 op Sondag 7 Januarie by die misdaadtoneel opgedaag.
Hulle was lank vasgekeer tussen hulle voertuie op die grondpad terwyl die 39-jarige skieter met verskeie kaliber vuurwapens op hulle gevuur het.
'n Ambulans asook polisievoertuie is tydens die skietery beskadig.
Geen beserings is egter aangemeld nie.
Spesialis-eenhede insluitend onderhandelaars asook die polisie se openbare orde-eenheid is op die toneel ontplooi.
Die openbare orde-eenheid het vasgekeerde polisielede en ander nooddienswerkers na veiligheid geneem en die Geelbeksvleipad was vir verkeer gesluit totdat die situasie ontlont is.
Onderhandelaars se pogings om die skieter te oorreed om homself oor te gee aan die polisie is deur die loop van die dag begroet met geweervuur.
Kort na 18:00 het die onderhandelingsproses vrug afgewerp en het die man homself aan die polisie oorgegee.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het speurders en forensiese deskundiges nege vuurwapens en 'n groot hoeveelheid ammunisie op die toneel gevind.
Teen druktyd het die beskuldigde nog nie in die hof verskyn nie.
Lees 'n vorige artikel: Man vas na gyselaarsdrama
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'