Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Om brûe tussen George se diverse gemeenskappe te bou is 'n hartstaak vir portefeuljeraadslid vir menslike neder-settings, Bazil Petrus.
Die uitrol van die Volhoubare Menslike Nedersettingsplan (VMNP) met die integrasie van verskillende bevolkingsgroepe as prioriteit is nou 'n tasbare realiteit en Petrus se voelers is oral uit om die proses te vergemaklik.
"Mense het baie bekommernisse," het Petrus, 'n voormalige burgemeester van George, Maandag 26 September tydens 'n mediakonferensie gesê.
"Sommige is bang hulle huise, en dus beleggings, verloor waarde. Aan die ander kant is daar diegene wat seergemaak voel omdat dit voorkom asof hulle nie welkom is in sekere woonbuurte nie. Ek wil graag met almal gesels.
"Ek wil mense gerusstel en uitnooi om hulle opinies te gee. Ons het debat en diep gesprekke nodig en die tyd is nou reg. Hierdie gesprekke gaan ook verder geneem word, in die raad en amptenary. Strukturele aparte ontwikkeling is iets van die verlede. Ons moet vorentoe kyk en brûe bou, want ons het mekaar nodig. "
Die publiek word uitgenooi om die voorgestelde VMNP te inspekteer en binne 30 dae vanaf 21 September tot 21 Oktober skriftelike vertoë ten opsigte van die plan in te dien.
Die dokument kan ook elektronies verkry word vanaf die munisipaliteit se webwerf.
Vir navrae kontak die kantoor van die adjunk direkteur: menslike nedersettings, beplanning en ontwikkeling, Edwin Herandien by 044 801 9183 gedurende kantoorure (08:00 - 16:00) of stuur 'n e-pos na efherandien@george.gov.za.
VIDEO: Portfeuljeraadslid Bazil Petrus skep die klimaat vir integrasie in George
Oog op die teiken
Ofskoon daar deur die hele George areas geoormerk is vir behuisingsontwikkelings, is die fokus tans op twee areas: die ou krokodilplaas aan die onderkant van Yorkstraat en 'n area aan die agterkant van Dellvillepark, aangrensend aan die N2.
Volgens Petrus is hierdie areas geoormerk vir middelklasbehuising - dus kan diegene wat tussen R3 500 en R22 000 as 'n gesin verdien aansoek doen vir eiendom in hierdie ontwikkelings.
"Dit is 'n uitnodiging vir alle rassegroepe. Niemand word uitgesluit nie," het Petrus gesê.
Die algemene behuisingswaglys het meer as 18 000 mense wat wag vir staatsgesubsidieerde huise. Vir middelklas behuising lyk die prentjie anders, met sowat 1 853 aansoekers tans op die lys.
Petrus gesels môre, Vrydag 30 September, op EDENfm met Morné Pietersen van 08:00 tot 09:00 op die geselsprogram, Politiek en Polimiek oor die kwessie.
Die ou krokodilplaas aan die onderpunt van Yorkstraat. Foto's: Michelle Pienaar
'n Pad is reeds plavei aan die agterkant van Dellvillepark, langs die N2, in die area wat geoormerk is vir middelklasbehuising. Foto: Michelle Pienaar
Die ou krokodilplaas aan die onderpunt van Yorkstraat. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'