GEORGE NUUS -In Pacaltsdorp het vieringe op Erfenisdag op 'n hoë noot afgeskop toe lede van die Gwaiingrivier-aksiegroep asook gemeenskapslede saamgestaan het teen die privatisering van die strand by Gwaiingriviermond.
Braam America, die skakelbeampte vir die groep, sê bruin mense word soms beskou as 'n groep wat geen kultuur, tradisie en geskiedenis het nie, maar na afloop van Donderdag se gebeure is dit duidelik dat daar inderdaad 'n geskiedenis en leefwyse is wat strek van generasie tot generasie. Hy kan met trots sê dat daar opreg hulde gebring is aan die Khoi-San afkoms.
Hy vertel die mense het sedert Woensdagaand by Gwaiingrivier saamgetrek.
"Die gees van Ubuntu het van toeka se dae reeds in ons nasie posgevat. Die Pacaltsdorpers is veral versot op hul avalpotte, musiek en sportbyeenkomste. Die Khoi Tradisionele Huis was ook teenwoordig en het 'n prominente rol gespeel op die dag."
Selfs Griekwa-afstammeling, Tertuis Simmers, was dankbaar dat hy kon deel wees van die vieringe. Simmers het vroeg Donderdagoggend reeds opgedaag en met die media gesels, omdat hy later ander verpligtinge gehad het. "Daar is 'n unieke geskiedenis en ryk kultuur. En baie stamme het 'n ryk geskiedenis van leierskap wat honderde jare sterk. En dis tyd dat ons daardie erkenning gee," sê Simmers.
Simmers is steeds aktief in sy kultuur as Griekwa en vier elke jaar die verskillende dae en mylpale.
America sê as Pacaltsdorpers glo hulle dat Erfenisdag nie net oor die eie kulture van afsonderlike groepe gaan nie, maar veral ook oor uitreiking oor die verskillende kultuurgrense heen.
"Ons Pacaltsdorpers sal beskerm wat ons voorouers aan ons nagelaat het en hierdie strand is een van daardie erfgebiede."
Stamhoof Brendon Adams saam met Trudie Jansen, voorsitter van die Khoi-vroueliga en van die Khoi-dansers. INLAS: Patrick Botto, die mondskilder, en Anthony Noble, nog 'n welbekende kunstenaar van George, het ook die vieringe bygewoon en talle geïnspireer met hul kunswerke.
Die Gwaiing-aksiegroep voel hulle mense moet daarvan bewus gemaak word dat die land 'n uitgebreide erfenisbewaringswetgewing het, maar die toepassing daarvan is die probleem. Die groep meen in vandag se samelewing lyk dit of politiek en ekonomie die spil is waarom die wêreld draai.
"Ons as groep sien erfenis en identiteit net so belangrik in vandag se samelewing. Dis een van die redes hoekom ons vandag ook van ons mense vereer."
Blanche Benjamin ook van die Gwaiing-aksiegroep, sê die groep distansieer homself van enige politieke partye. "Ons het baie foute gemaak, maar ook baie geleer. Ons sal volgende jaar weer Erfenisdag op die manier wil vier."
Die groep sê die vieringe by Gwaiing was met die bedoeling om die ryke geskiedenis van meer as 200 jaar te vier. Hulle sê die Gwaiingriviermond is sinoniem met die Hooggekraal / Pacaltsdorp-gemeenskap.
"As ons kan teruggaan na die Verenigde Nasie se Spesiale Rapporteur. Aanbeveling aan die Suid-Afrikaanse Regering in Augustus 2005, Artikel 23 en 28, word verwys na die regte tot ontwikkeling en regstelling deur middel van restourasie van inheemse volkere. Ons as groep is bewus dat hierdie "Kroon Grond" is wat aan die gemeenskap van Pacaltsdorp gegee is. Ons sal vasstaan om hierdie see te behou vir ons nageslag en om dit as deel van ons erfenis te behou."
Patrick Botto, die mondskilder, en Anthony Noble, nog 'n welbekende kunstenaar van George, het ook die vieringe bygewoon en talle geïnspireer met hul kunswerke.
Pacaltsdorp-families
Daar is ook Donderdag eer betoon aan die families wat oor die jare heen sinoniem aan Pacaltsdorp geword het soos die Saaiman, Roelf, Stoffels, Claassen, Fortuin, Snyders, Douglas, Heyns, November, Da Silva, Marks, Parks, Cronjé, Carelse, Dreyer, Volkwyn, Meyer, Brown, Carolus en Twigg families. Peter Noble, 'n gemeenskapslid van Pacaltsdorp en jare lange kampeerder by Gwaiing, sê hierdie families sou die kern wees waarom Pacaltsdorp met sy stofstrate oor die jare sou ontwikkel in die woongebied wat dit vandag is.
"Dit is vir ons as die huidige generasie van uiterste belang dat die boodskap aan die jeug oorgedra word dat die unieke skoonheid van die area deur ontwikkeling, wat nie gekeer kan word nie, bedreig word. Verder is dit belangrik dat die unieke karakter van die area vir die volgende generasie behoue bly. Vrye toegang tot die bronne van die natuur is ononderhandelbaar. Die uitleef van die kultuur moet in die huidige generasie ingemessel word."
Hy vertel die Saaiman, Arries, Roelf, Carolus, Claassen, Carelse-families sou hulle oor die jare onderskei as uiters bekwame landbouers wat 'n groot bydrae sou lewer om die volk te voed deur groente te voorsien aan markte in die streek.
Craigeburn
Families wat oor die jare met kampering by Craigeburn verbind word sluit in die Da Silva, Marks, Parks, Volkwyn, Januarie, November, Meyer, Damons, Fortuin, Noble, Cronje, Blignaut en Dreyer families.
Die families Van Schoor, Volkwyn (Kaapstad) asook die Knights (Port Elizabeth) families vanuit Graaff-Reinet sou vir etlike jare lang afstande aflê en verby talle strande reis om tydens Desembermaande by Craigeburn, met haar unieke skoonheid te kom uitspan. "Geen wonder dat van hul nasate na soveel jare steeds hier kom uitspan nie," spog hy.
Die besondere erfenisvieringe van 2020 het opnuut die kollig laat val op die wonder van die natuur te Craigeburn en hoe belangrik dit is dat hierdie stukkie ongerepte paradys vir ons nageslagte toeganklik, beskerm en behoue moet bly.
Luwayda Tarentaal, Sharlene Abrahams, Tertuis Simmers, Blanche Benjamin en stamhoof Brendon Adams net voor die optog na Gwaiing verlede Donderdag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'