RUBRIEK - Wat doen jy, as jy 30 minute voor beurtkrag begin, besef jou huis se sleutels is weg, nadat jy die hele dag uit was? Jy soek in jou motor. En soek. Eers kalm. Maar hoe later, hoe kwater.
Dan skop plan B in en jy bel iemand wat 'n spaarsleutel van jou huis het. Jy gaan haal dit vinnig. Terug by die huis, wanneer beurtkrag begin, soek jy verder. Selfs met 'n flits in die donker. Sonder sukses.
Maar kom ek gaan haal die storie by die begin, wat uiteindelik uitgeloop het op 'n persoonlike groot lewensles.
Vroeg op 'n Sondagoggend in Junie vertrek ek na Karatara naby Knysna vir werksdoeleindes. Ek moet inligting daar kry om berigte te skryf en ek is haastig. Net soos verlede jaar kon die formele Comrades Marathon nie plaasvind nie.
Vanjaar was die 100-jarige herdenking van die wedloop en wedlope is regoor oor die land gehou as deel van die Comrades Marathon Centenary Hope Challenge.
In die Suid-Kaap kon atlete onder meer aan 'n 45km wedloop deelneem wat by Karatara klaar gemaak het. Deelnemers kon ook 'n volledige Comrades hardloop wat by Wilderness klaar gemaak het.
By Karatara wag ek van die atlete in en ry later op die agterpaaie na Wilderness. Ek geniet dit en stop op plekke terwyl ek met van die deelnemers gesels, foto's neem en videos maak.
In die loop van die middag wag ek deelnemers in Wilderness in. Dan is dit terug George toe waar beurtkrag oor 'n rukkie begin.
By die huis begin my nagmerrie. Waar is my huis se sleutels? Ek kyk onder meer in die motor se kattebak want soms plaas ek die sleutels daar. Die bedekking oor die spaarwiel lig effens, maar wil nie regtig los kom en ek los dit.
Ek bel selfs die organiseerders om te hoor of iemand nie my sleutels opgetel het nie. Die nag slaap ek nie goed nie, maar troos myself dat daar geen identifikasie aan my sleutels is nie.
Maandagoggend besluit ek om weer dieselfde pad te gaan ry. Terug die "verlede" in. Dalk lê dit nog erens. Oppad sien ek by 'n verkeerslig in Sedgefield 'n bejaarde vrou in 'n rolstoel sonder bene wat die N2 probeer oorgaan. Ek voel sleg omdat ek so te kere gaan oor 'n bos sleutels.
By al my stilhouplekke van die vorige dag, stop ek. Besorgde motorryers stop en wil weet of alles reg is. Aanvanklik is ek optimisties, maar ek kry nie my sleutels nie en my moed begin sak.
In Hoekwil stop ek en koop van my gunsteling gemmerkoekies. Dit help om my beter te voel en ek ry terug George toe. Gemmerkoekies is nou "pynpille" vir 'n seer gemoed en moet kwaai emosies laat bedaar.
Die sleutels is weg en ek berus. Tuis besluit ek om net vir oulaas weer alles uit die motor te pak. Ek roep iemand om my te help om die bedekking oor die spaarwiel los te kry. Versigtig want ek dit wil nie beskadig nie. Daar is gleufies, maar uiteindelik is dit los.
En daar ingeskuif by die spaarwiel is die sleutels. Baie dinge gaan deur my gemoed. Vreugde, want ek het die sleutels. Maar ook woede vir myself, omdat ek nie daar gekyk het nie. Dis 'n raaisel hoe dit daar gekom het, maar dit het waarskynlik daar ingeskuif as gevolg van die motor se skud op die grondpaaie.
Later tref dit my. Die liewe Vader laat nie sulke dinge toevallig gebeur nie. Om te dink: Ek het meer as 100km gery op soek na iets, terwyl dit hier 'n meter of twee agter my in die motor se kattebak was.
Dis 'n groot lewensles. Baie keer gaan soek ons op ver paaie en selfs in die verlede na sleutels van geluk. Die sleutels wat deure moet oopsluit na 'n beter lewe en vreugde. Dit, terwyl dit baie keer vlak hier by ons en onder ons neuse is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'