RUBRIEK: Hoe kan ek ooit daardie oggend vandag (2 Februarie 2023) presies 33 jaar gelede vergeet: 2 Februarie 1990, Parlement, Kaapstad. Dis 'n mooi someroggend in Kaapstad en die toekoms wink. Te midde van die afwagting in die lug, is daar ook onsekerheid.
Ons land het hoop nodig want ons is op pad om oor die afgrond te ry. Wat gaan pres. FW de Klerk later aankondig met die opening van die parlement? Hy wat vir baie mense en selfs in sy eie geledere 'n verkrampte beeld het. Maar wie weet...
Ek is 'n jong parlementêre verslaggewer wat vir 'n Transvaalse dagblad werk en deel is van 'n koerantgroep se parlementêre span. In die hiërargie van base en klase is ek 'n baie junior klaas. Maar dit pla my nie. Om bloot by die parlement te wees, is iets besonders. Grootoog loop ek saam met senior kollegas voor die parlement in afwagting van pres. De Klerk se toespraak. Ek vergaap my aan al die politici.
'n Minister kom verbygestap en praat vinnig met een van ons senior kollegas. Hy wil nie die aap uit die mou laat nie, maar merk terloops op: "Maak maar julle veiligheidsgordels vas."
Later praat De Klerk. Die banke in die persgalery van die nasionale vergadering in die parlement is nie vir my as 'n junior beskore nie, maar ek kan die toespraak digby die raadsaal volg op geslotebaantelevisie in die groep se parlementskantore. Gedrukte afskrifte word ook aan die media uitgedeel. Dis een van die geskiedkundigste toesprake in Suid-Afrika se geskiedenis. Dit verander alles.
Baie besef nie dadelik die impak nie. Na die toespraak vaar ek saam met ander kollegas Kaapstad se strate in. Baie mense insluitende mense van die sogenaamde bevrydingsorganisasies lyk verslae en selfs verward. Hulle kan nie glo wat aangekondig is nie. Die werklike impak sink eers later in. Dis die begin van 'n nuwe land.
Bietjie meer as 'n week later, op Sondag 11 Februarie, word Nelson Mandela in die Paarl vrygelaat. Sy eerste formele toespraak as 'n vry man is later die dag in Kaapstad - nie ver van waar De Klerk sy 2 Februarie toespraak gelewer het nie.
Vroegaand in die sterk skemer praat Mandela op die Kaapse parade. Ek staan ver agter, maar kan hom darem sien. Daar is hy. Die man wie se foto vir baie jare nie eers in Suid-Afrika gepubliseer kon word nie. By hom is Cyril Ramaphosa wat net soos Mandela ook later president sal word. Maar dis ver in die toekoms.
Die nuwe reis het in alle erns begin.
In die dae en in jare daarna, gebeur baie dinge. Daar is vreugde, maar ook baie trane. By tye selfs woede en frustrasie. Dis 'n opwindende reis, maar by tye 'n pad vol klippe. Ons hou die veiligheidsgordels aan. Dit voel die laaste paar jaar of die land weer op pad is na dieselfde afgrond as voor 2 Februarie 1990.
Korrupsie, misdaad en natuurlik deesdae beurtkrag. Wie sou byvoorbeeld ooit in 1990 kon dink dat ons eendag selfs ons beurt sou moes afwag om elektrisiteit te kan gebruik.
In my eie persoonlike lewe beleef ek oor die jare ook 'n 2 Februarie 1990 by meer as een geleentheid. Ek aanvaar baie ander mense ook. Daar is/was baie vreugde en trane. Ook opwindende nuwe reise. Het ek byvoorbeeld ooit kon droom dat ek eendag in George sou beland? Nee, natuurlik nie.
Nou kyk ons terug na 33 jaar gelede. Was dit nodig? Natuurlik, maar ons het nou die voordeel van leer uit foute. Einste De Klerk het by geleentheid aan my gesê: Hy sou dit weer doen, maar net anders hanteer.
Ons staan weer voor 'n 2 Februarie en dis al duidelik dat mense dinge anders sal moet doen. Maklik is dit nie, maar daar is geen ander keuse nie. Maak maar vas die veiligheidsgordels.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'