GEORGE NUUS - Politieke partye is besig om in rat te kom vir aanstaande jaar se algemene verkiesing. 'n Datum moet nog aangekondig word, maar politieke partye se verkiesingsmasjinerie kry reeds olie.
DA Wes-Kaap
Die DA in die Wes-Kaap het die afgelope naweek sy leierskorps gekies wat gaan voorstap in die verkiesing.
Tertuis Simmers is Saterdag 11 November permanent tot provinsiale leier verkies. Hy het sy teenstander, Bonginkosi Madikizela, oorweldigend verslaan. Simmers het die afgelope 22 maande waargeneem as leier. Geordin Hill-Lewis is die onderleier en Jaco Londt die voorsitter.
Die party gaan met valkoë dopgehou word want die party swaai op die oomblik die septer in die provinsie.
Simmers het Maandag 13 November gesê sy eerste taak nou is die kieserregistrasie die naweek. "As mens nie as 'n kieser geregistreer is nie, kan mens nie stem nie."
Die DA het in 2014 die meeste steun ooit in die Wes-Kaap gekry. Die party se mikpunt vir aanstaande jaar se verkiesing is om minstens 60% stemme te trek. Die party het in die 2021 munisipale verkiesing geleer dat geen stem as vanselfsprekend aanvaar moet word nie.
Onder sy leierskap gaan die party hard werk om elk stem te kry. Volgens hom moet ook in gedagte gehou word dat die DA betrokke is by die Veelpartypakt. Stemme vir die party kan die ooreenkoms sterk maak.
Hy het gesê aanstaande jaar is 'n waterskeidingsverkiesing. In 1994 het mense gestem vir bevryding. In 2024 gaan hulle stem om die land te red. Die land gaan op die oomblik agteruit en daar is iets soos byvoorbeeld korrupsie. Volgens hom moet mense in gedagte hou dat hulle 'n regering kry waarvoor hulle stem.
VF Plus
Die VF Plus het tydens 'n Wes-Kaapse reorganisasie vergadering die afgelope naweek in Goodwood 'n leierskapspan gekies. Die party beskryf dit in 'n verklaring as 'n span om die party te help lei na 'n moontlike koalisieregering in dié provinsie ná aanstaande jaar se algemene verkiesing.
Dr. Corné Mulder is onbestrede herkies tot Wes-Kaapse provinsiale leier met die onderleiers adv. Gert van Niekerk en adv. Lennit Max.
Dr. Corné Mulder (links) VF Plus leier in die Wes-Kaap, adv. Gert van Niekerk, eerste ondervoorsitter en adv. Lennit Max, 2de ondervoorsitter.
Good
Good het 'n nasionale konferensie gehou. Patricia de Lille is onbestrede herkies vir 'n tweede termyn as leier.
Brett Herron is onbestrede as sekretaris-generaal verkies. Suzette Little is adjunk-sekretaris-generaal verkies. Matthew Cook is voorsitter gekies en Thabo Pheku as ondervoorsitter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’