Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ligte, kamera, aksie!
Bykans drie jaar gelede het die boorling van George, Luwellyn Innes (25), algemeen bekend as Bizkit, nie gedink fotografie sal sy geliefkoosde aktiwiteit word nie.
Vandag kan Innes met 'n lens toor.
"'n Vriendin het vir my haar kamera geleen en gevra dat ek as fotograaf by 'n matriekafskeid moes instaan," onthou Innes. Van daar het Innes vir die pret by leerders se matriekafskeid, verjaarsdagpartytjies en gesellige geleenthede foto's geneem. Aan die begin het hy 'n kamera by 'n vriend gehuur.
"Ek het by mense geleer en gebruik gemaak van beskikbare hulpbronne soos YouTube en die internet om meer te leer oor tegnieke, elemente en die instellings van 'n kamera," verduidelik Innes. Dit is hoe sy kennis, kliëntebasis en liefde vir fotografie gegroei het.
Vandag spesialiseer Innes daarin om modelle, modes en troues te fotografeer. Daarby het hy ook 'n YouTube-kanaal, BiZKiT PhotoGraphy, waar hy wenke oor kameras en beligting deel, dit alles behartig hy deeltyds.
Op 'n vraag oor wat sy tegniek anders maak, antwoord Bizkit, "Inplaas van die gewone say cheese gesegde, gee ek aan elkeen van my modelle eerder 'n high-five." Hy gaan voort, "En ek probeer my foto's so natuurlik en lewendig as moontlik hou."
"Ek probeer my foto's so natuurlik en lewendig as moontlik hou," sê Luwellyn Innes.
Innes het vir 'n kort tydperk fotografieslypskole by George Youth Café aangebied en hy het homself daaraan toegewy om mentorskap aan beginners te bied.
Volgens Innes is sy groot droom om eendag sy held, die gesoute fotograaf, Jason Lanier, te ontmoet.
Hy beskryf homself as 'n oopkop-fotograaf wat graag met nuwe tegnieke eksperimenteer soos Lanier.
Luwellyn Innes, algemeen bekend as Bizkit, se liefde vir fotografie het sowat drie jaar gelede ontstaan.
Bizkit se raad aan beginners, "Leer soveel as wat jy kan. Netwerk met ander fotograwe en ruil idees uit. Neem foto's in RAW." RAW of rou foto's word so genoem omdat hulle nog nie verwerk is nie en dus nie gereed is om gedruk of geredigeer te word nie.
Voorbeelde van Innes se fotografie is op Instagram onder, Bizkit Photography, te sien.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'