GEORGE NUUS - Daar is lig in die tonnel vir die jare lange stryd wat bestaansvissers voer om toegang tot die Pacaltsdorp-kusgebied te kry.
'n Senior afvaardiging van die departement van bosbou, visserye en die omgewing en belangegroepe van Pacaltsdorp het Vrydag 11 Augustus by die kantore van die Tuinroete-disitriksmunisipaliteit ontmoet.
Na verneem word het die vergadering plaasgevind in opdrag van Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing.
Henry Fredericks wat namens die belangegroepe praat en dr. Dennis Farrell, 'n sake- en gemeenskapskonsultant, het by navraag bevestig dat die vergadering plaasgevind het. Beide het self die vergadering bygewoon.
Fredericks het Dinsdag 15 Augustus gesê verskeie belangegroepe was teenwoordig, onder andere die vissers, mense wat munisipale meentgrond wil bekom vir boerdery, grondeisers (wie se grondeise nooit afgehandel is nie) en die Gwaiing Action Group.
Vissermanne sê visvang is hulle brood en botter, hulle soek toegang tot openbare kusgebiede.
Daar was ook verteenwoordigers van die distriksmunisipaliteit en die George-munisipaliteit. Dit het geblyk dat die ministerie bekommerd was dat die toegangskwessie nooit aangespreek is nie. Die belangegroepe se verwagting is dat die Garden Route Coastal Management Program wat verlede jaar begin is, nog nie klaar is nie. Dit moes al verlede jaar klaar gewees het.
"Ons argument was dat toegang tot die kus moet deur die Garden Route Coastal Management Program aangespreek word want dis die gepaste meganisme."
Daar moet ook wyer gekyk word en onder meer moet aandag gegee word aan die grondeise en meentgrond.
"Ons het ons saak gestel en dis baie goed ontvang. Die prioriteit is nou toegang tot openbare kusgebiede."
Volgens hom werk die belangegroepe nou saam. "Al die plekke waar die vissers toegang geweier word, word geïdentifiseer. Daar was al voorvalle van intimidasie en aanranding wat daarmee verband hou."
Fredericks het gesê dat in gedagte gehou moet word dat visvang die mense se brood en botter is. Die inligting oor die eiendomme wat geïdentifiseer word sal aan die departement oorhandig word. Die plan is dat verteenwoordigers van die departement saam met die belangegroep die eiendomme sal besoek om ter plaatse na die situasie te kyk.
Volgens Fredericks moet die owerhede ingryp om seker te maak dat die wette toegepas word. "Die wette is daar. Dit moet net toegepas word."
Die belangegroepe kyk nou na die situasie van Pacaltsdorp tot by Gouritsriviermond en doen dit op eie koste.
Farrel het gesê die vergadering het baie goed afgeloop en daar word beplan om opvolgvergaderings te hou.
Henry Fredericks
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’