Gallery
GEORGE NUUS - Na die aankondiging van inwoners se drie ure "vrye tyd" soggens het Hanli Townshend en twee vriendinne, wat naby die Tuinroetedam woon, dadelik hul rugsakke gepak.
"Ons wou net uit berg toe!" het sy gesê. Vroeg Saterdagoggend het hulle die gewilde voetpad na die Pepsi-poele aangedurf om na dae van grendeltyd asem te skep.
"Volgens Townshend het sy lank laas die poele so vol gesien. Die stappers het 'n heerlike piekniek op die klippe langs die poele gehou. 'n Paar uur van groen en blou het gehelp om dié natuurliefhebbers moed vir die week te gee.
By die poele het die vroue 'n gebreekte waterpyp opgemerk, met water wat daaruit stroom. Die gebreekte pyp is by George-munisipaliteit aangemeld.
Volgens munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, is tydelike herstelwerk aan die pyp Sondagmiddag reeds voltooi, en sal 'n vervangingspyp, wat tans vervaardig word, so gou moontlik geïnstalleer word.
Fotogalery: Pepsi-poele by Tuinroetedam
"Enige foute of klagtes wat via die brandweer aangeteken word, word na die betrokke direktorate verwys vir optrede. Alhoewel ons siviele werkers het wat 'n essensiële diens verskaf en aanhou werk, bly die administratiewe kantore gesluit," het Edwards-Klose gesê.
Meld waterlekkasies en gebarste pype, rioolverstoppings, -lekkasies en -stortings, en dringende probleme met pad- en stormwater aan by: 044 801 9262/6 (07:45 tot 16:30) en 044 801 6300 (na-ure).
Tuinroetedam in al sy glorie, verlede Saterdagoggend, tydens die tweede dag van fase 4 in grendeltyd.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'