GEORGE NUUS - As die uitdagings wat die jeug daagliks moet aanpak nie baie gou aangespreek word nie, kan 'n soortgelyke situasie as in 1976 ontstaan.
Die waarskuwing is Vrydag 16 Junie deur Sharna Fernandez, Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, gemaak in 'n onderhoud met George Herald tydens 'n Jeugdaggeleentheid in George.
Sy het gesê destyds het dit gegaan oor teenkanting teen Afrikaans en 2023 is die uitdagings dinge soos werkloosheid, armoede en sosio-maatskaplike vraagstukke.
Dit was Vrydag 47 jaar gelede dat die jeug in Soweto in opstand gekom het. Vrydag se geleentheid in George was die Wes-Kaapse provinsiale jeugekspo. Dit is deur sowat 1 300 jeugdiges vanoor die streek, Beaufort-Wes en selfs Kaapstad bygewoon.
Fernandez het gesê Jeugdag is belangrik en sy was verheug dat die geleentheid deur soveel jeugdiges bygewoon is.
Haar boodskap aan die jeug was om hoop te behou. Sy het 'n beroep op die jeug gedoen om elke dag as hulle opstaan 'n verskil te probeer maak.
In 1976 het die jeug saamgestaan en hulle moet nou weer saamstaan. Daar is in 2023 baie groot uitdagings soos werksgeleenthede. Daar word bietjie vordering gemaak om die behoeftes van die jeug aan te spreek.
Op die vraag of al die opofferinge van 1976 en daarna, die moeite werd was, het sy gesê as na die huidige situasie gekyk word, lyk dit of dinge agteruit gegaan het. "Dit lyk of die jeug nie betrokke is nie en hoop verloor het. Apartheid was verkeerd en meer moet en kan vir die jeug gedoen word.
"Suid-Afrika het 'n goeie grondwet op papier. In effek is die grondwet geskryf vir 'n volwasse demokrasie. Nie vir 'n ontluikende demokrasie nie.
"Die onvoorsiene gevolge word nou gesien soos byvoorbeeld ouers wat nie meer hul kinders kan dissiplineer nie. Dinge soos dissipline, karakter en waardes is belangrik. Die vraag is waar is God in die gemeenskap, die skool en die huis. Dit moet bietjie herstel word.
"Ons het ouers nodig wat hul kinders ondersteun. As ons die uitdagings nie aanspreek nie, kan 'n soortgelyke situasie as in 1976 ontstaan."
Van die aanwesiges die middag. Foto: Eugene Gunning
Om die kwessie van werkloosheid onder die jeug aan te spreek moet daar weer gekyk word na die benadering. Daar is gegradueerdes wat nie werk kan kry nie omdat hulle nie ondervinding het nie. Dit beteken hulle kan nie 'n bydrae maak tot die ekonomie en die gemeenskap nie.
Ray Carstens, lid van die plaaslike reëlingskomitee, het gesê ouderdomme van die jeug het gewissel tussen 15 en 35 jaar. Daar was 40 uitstallers en 10 jong entrepreneurs.
Die doel was om jongmense blootstelling te gee aan werksgeleenthede en opleidingsgeleenthede.
Een van die uitstallings tydens die geleentheid.
Van die uitstallers en jong entrepreneurs.
Sharna Fernandez, Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’