GEORGE NUUS - Onlangse inbrake by twee padstalletjies in die Waboomskraal-gebied en een in Nol tussen 19 April en 1 Mei, asook 'n inbraak verlede Vrydag, 6 Mei, by SSK Agriland in Herold, het dié landelike gemeenskap noord van George genoop om hande te vat en veiligheidsmaatreëls op te skerp.
Volgens Kemp Myburgh, 'n inwoner van Waboomskraal en oorkoepelende plaaswagvoorsitter, is daar 'n toename in misdaad in die gebied en inwoners moet meer paraat wees.
Die plaaswag dien 'n massiewe gebied wat strek vanaf Waboomskraal tot Herold, Nol, Heimersrivier, Klipfdrift/Mount Hope en selfs Zebra. Elke area het sy eie plaaswag met sy eie voorsitter, waarvan Myburgh die oorkoepelende voorsitter is.
"Ons het die afgelope tyd nie minder nie as ses besigheidsinbrake in ons gebied gehad. Myns insiens was ten minste drie baie professioneel gedoen en vooraf beplan," sê Myburgh.
Die modus operandi van die inbrake stem almal ooreen met die dat diefwering en vensters verwyder is om toegang te verkry. Myburgh vermoed daar is minstens vier verdagtes betrokke waarvan sommige gewapen kan wees.
Hy wou nie uitbrei oor presies watter stalletjies of die waarde van goedere wat gesteel is nie, maar sê dat daar nou pro-aktief opgetree word deur die plaaswag en die gemeenskap.
"Ons het onlangs samesprekings met die plaaslike polisie gehad rakende die voorvalle. George se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is ook nou betrokke en AfriForum staan ons by met moderne tegnologie en opleiding van ons patrollielede. Die departement vir gemeenskaps-veiligheid (Docs) in die Wes-Kaap is ook aan boord. Ons plaaswagsisteem is besig om baie aktief en effektief te raak en ons het reeds twee pogings van veediefstal gefnuik. Die gemeenskap staan saam en ons is positief," sê Myburgh.
Myburgh sê daar was onlangs 'n versoek van die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, vir inligting oor die voorvalle.
Myburgh verduidelik dat die sosio-ekonomiese omstandighede van die plaaslike gemeenskap in gedagte gehou moet word.
"Armoede forseer soms mense tot die uiterste en van die mense in die omgewing kry baie swaar. Met die unieke boerderye wat hops, proteas en kiwivrugte insluit, word Waboomskraal as die Franschhoek van die Tuinroete beskou.
"Dit is ons plig om ons gemeenskap en die waarde wat dit tot die omgewing toevoeg, te beskerm," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'