Talle bejaarde lidmate wat in Pacaltsdorp gebore en getoë is, was deel van die samekoms in die kerk waar hulle staaltjies uit vervloë dae met die kinders, ds. George Anderson, van Kanada, en sy susters, Jessie Blackshaw en Mary Webster, van Kaapstad, gedeel het. Mary se man, Bill ('n afgetrede leraar) en hul seun Alan, van Benoni, was ook daar.
George het Sondag as gasprediker opgetree en so die laaste preek gelewer van Pacaltsdorp se 200-jarige bestaansvieringe wat verlede jaar in Maart 'n aanvang geneem het.
Mense soos Chrissie Marks (87) wat die kinders se oppasser was, onthou nog besonderhede van hulle as babas en kleuters terwyl hulle in die pastorie tot met John se dood gewoon het. Hulle het daarna saam met hul ma, Marjorie, George toe verhuis, maar vir jare nog by Gwaing gaan vakansie hou en hulle voel tot vandag toe nog onlosmaaklik deel van Pacaltsdorp.
Bettie Bredenkamp (87) het vertel dat John Anderson ook die orrelis in die kerk, skoolhoof en posmeester was. Bettie het in die skoolkoor gesing wat John afgerig het. Sy het later sy self koorleidster geword.
Siena da Silva (84) het vertel hoe die Andersons ook by Gwaing gaan kamp het. "Sondae is daar eers kerk gehou voordat enigiemand in die water toegelaat is." Volgens Vernon Dreyer het John 'n draagbare orreltjie gehad wat hy op die rotse staangemaak het wanneer hy vakansietye op die rotse by Gwaing kerk gehou het.
Die geleentheid is ook bygewoon deur Peter Young en sy suster Wendy Hurworth, agteragterkleinkinders van eerwaarde William Anderson, die sendeling van die Londense Sendinggenootskap wat vir die bou van die klipkerk verantwoordelik was. Hy was die eerste Anderson wat die gemeente gelei het en het 'n vrugbare bediening vir 30 jaar gehad.
Ds. George Anderson staan tussen Pacaltsdorpers, dr. Aubrey Douglas (voorsitter van die Pacaltsdorp 200-reëlingskomitee) en Vernon Dreyer (regs).
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'