GEORGE NUUS - Pacaltsdorp in George het Sondag 'n groot sportgees, Abraham Johnson (66), 'n oud-Sprinbok-rugbyspeler, gegroet. Oom Awie, soos almal hom geken het, is verlede week weens Covid-19-komplikasies in die George-hospitaal oorlede.
Honderde roubeklaers het blomme voor sy woning in Harmony Park, Pacaltsdorp neergelê tydens 'n verbyritdiens.
Behalwe dat hy op die rugbyveld onder moeilike omstandighede in die apartheidsjare uitgeblink het, was hy nou betrokke in sy gemeenskap, van afrigting, die Congregational Church se Sondagskool, die kerk self, tot die Gwaiingrivier-aksiegroep.
Rugbyloopbaan
Oom Awie het in die 1960's by Pacaltsdorp Primêr begin rugby speel. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool George begin, waar hy ook uitgeblink het in atletiek en uitgedraf het vir die skool se A-span.
Hy het later vir SWD-federasie en daarna vir Protea-federasie op vleuel uitgedraf.
In 2000 het hy erkenning ontvang vir sy bydrae tot rugby en is sy Springbok-kleure aan hom toegeken, saam met ander plaaslike sporthelde soos Christi Noble, Jack Juries, Urwin da Silva en Mervin November. Al vier het ook Sondag hul laaste eer betoon.
Hy was vanaf 2014 tot 2018 betrokke by die afrigting van verskeie vrouerugbyspanne insluitende die Eagirls-vrouerugbyspan.
Evergreens-rugbyklub se bestuur, waarvan oom Awie 'n lewenslange erelid was, het ook 'n krans gelê.
Oudspanmaats sê oom Awie het natuurlike rugbytalent gehad. "Awie was 'n baie rustige speler op die veld, maar bitter gevaarlik en vreesloos. Hy was 'n sterk speler en as hy die bal in die hand gehad het, weet jy dit is doellyn toe," vertel Urwin da Silva.
Abraham "Awie" Johnson
Gesinsman
Sy vrou, Alice (Ellie) beskryf hom as 'n goeie man en pa vir hulle kinders. "Hy was baie beskermend oor ons kinders.
"Saam kon ons bou en deponeer aan ons kinders se groei en ontwikkeling tot volwassenheid - of hy weg was of by die huis was, hy was altyd daar. Met sy voorbeeld het hy sy huisgesin gelei, beskermend, nederig en ferm. Nederigheid was een van sy sterk karaktertrekke, somtyds was hy te nederig. Hy was my steunpilaar en 'n man duisend," sê Alice.
Sy kinders sê: "As pa was hy altyd 'n ikoniese toonbeeld en kon ons altyd streef daarna om sy voorbeeld te volg. Ons kinders het hom baie gevolg op die rugbyveld. Op skool was hy baie ondersteunend in die onderskeie sport-soorte wat ons beoefen het. Wanneer ons spannetjie uitgedraf het, het hy seker gemaak hy vat sy middagete oor daai tyd, om ons te ondersteun en die nodige raad en leiding te gee. Ons was altyd verseker van sy teenwoordigheid."
Hy laat sy vrou, Alice, dogter, Madelaine en drie seuns, Charl, Arthur en Earl, asook agt kleinkinders, drie skoondogters, Diné, Nadia, Danielle en 'n skoonseun, Charlton Pedro agter.
Lede van die Pacaltsdorp-brigade.
Honderde roubeklaers het Sondag hul laaste eer aan die oud-Springbok, Abraham (Awie) Johnson, kom betoon.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'