GEORGE NUUS - Tydens 'n roerende troosdiens in die NG Kerk Blanco het Georgiete Vrydagoggend finaal afskeid geneem van die geliefde oudskoolhoof van Laerskool Blanco, Kobus Oelofse (78). Net 50 roubeklaers kon as gevolg van die inperking die diens bywoon.
Kobus Oelofse het nooit gras onder sy voete laat groei nie en het diep spore op die onderwyspad getrap.
Geen uitdaging was vir hom te groot nie. Tydens fondsinsamelingsprojekte het hy van voor gelei deur self in te spring. By Laerskool Blanco is talle verbeterings, wat as monumente vir hom staan, aangebring wat vir die skool 'n nuwe fase van groei ingelei het.
Oelofse het in 1985 die hoofskap by Laerskool Blanco aanvaar en sy energie in baie sfere van die gemeenskap gestort.
Hy het as ouderling nou bande gesmee met die plaaslike kerk en ‘n hegte samewerking het tussen die skool en die kerk ontwikkel. Hy was president van die Blanco-rugbyklub, was betrokke by die Lions in George sowel as op Noll, waar hy ook die president was. Hy het ‘n judoklub help stig en was ook betrokke by die uitbou van stoei as sport in George. Gedurende die 1980’s het hy ook op die skouraad gedien.
Onderwys was in sy bloed en hy was reeds oor die 70 toe hy steeds met dieselfde ywer by Laerskool Herold gaan aflos het. Hy was ook in hierdie tyd as ‘n vrywilliger betrokke by Laerskool Kretzenshoop waar hy veral met wiskundeklasse gehelp het. Asof dit nie genoeg was nie, het hy ook sy geduld en knap houtwerkvaardighede aangewend om jongmense by Up for Downs te help om self ietsie te maak, ongeag die aard van hulle gestremdheid.
Groot projekte soos die skourestaurant, die restoureer van ‘n bus vir die skool, motortydrenne op plaaspaaie en wynveilings by Fancourt was van die projekte wat hy aangedurf het.
Maar ‘n doodgewone kleureatletiekbyeenkoms is met dieselfde ywer aangepak. Hy het elke ouer by die naam geken en was lief vir elke kind in sy skool. Sy talle staaltjies oor die kinders getuig van sy passie vir die jonger geslag.
Sy vrou, Helmina, moes menige dae ekstra broodjies inpak as hy geweet het daar is ‘n knapie by die skool wat nie iets te ete gehad het nie.
As die skoolinspekteur of departement openbare werke se amptenare die skool besoek het, is hulle aan huis van die Oelofses genooi vir middagete.
Tot vroeër vanjaar was Kobus op 78-jarige ouderdom nog deel van die patrolliegroep van die Blanco-buurtwag en het hy die strate van Blanco in die nagte help veilig hou.
Oelofse is op 24 Augustus 1941 op Jansenville gebore waar hy grootgeword het voordat hy na skool aan die Onderwyskollege Graaff-Reinett studeer het.
Sy kleurryke onderwysloopbaan het op plattelandse dorpe begin, onder andere op Virginia en Parys in die Vrystaat. In daardie tyd het hy deeltyds an die Universiteit Oranje Vrystaat gestudeer.
Behalwe vir sy betrokkenheid in die klas en op die sportveld, was hy ook ‘n talentvolle amateur akteur. Hy is onder andere 'n rol aangebied in ‘n produksie van Sukovs, maar die speelvak het met sy eindeksamen gebots en hy het die aanbod van die hand gewys.
Na sy verblyf in die Vrystaat het hy in Port Elizabeth by Laerskool Dr. Viljoen skoolgehou hy Helmina ontmoet het. Hulle is in 1970 getroud.
Hulle het kort na hul troue na Noll in die Langkloof verhuis, waar Oelofse op 28-jarige ouderdom die hoofskap by Laerskool Dieprivier gekry het en Noll sou nooit weer dieselfde wees nie.
In die 14 jaar wat Kobus in "Die Kloof" was, het hy en Helmina berge versit by die skool en in die gemeenskap. Met fondsinsamelingsprojekte het hulle begin om ‘n biblioteek, snoepwinkel, tennisbaan, atletiekbaan, pawiljoene en toiletgeriewe op te rig. Daar is selfs ‘n dam op die skoolterrein gebou om die skool se beurtwater te stoor.
Oelofse word oorleef deur Helmina, twee dogters, Mare-Liez en Amór, en drie kleinseuns - sy hart se drie punte - Brendan, Pierre en Ulrich.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'