GEORGE NUUS - Aktrise Ira Blanckenberg, 'n oud-Kwagga, vertolk die rol van Meliena Kapp in Toorbos, filmmaker René van Rooyen se nuwe film wat gebaseer is op Dalene Matthee se gelyknamige boek. Die film is in die Knysna-woude geskiet en word môre, Vrydag 13 November vrygestel.
Blanckenberg is die ma van die hoofkarakter, Karoliena. Meliena is 'n onsimpatieke, verslane vrou wat ná haar man se dood desperaat is om kos op die tafel te sit en om haar dogter op te voed.
Sy was eens 'n trotse vrou en haar man het 'n goeie houtkappershuis vir hulle agtergelaat, maar om te oorleef, slaap sy nou saam by verskillende mans. Haar grootste droom is om te sien dat Karoliena uitstyg bo die armoede wat hulle omring.
Blanckenberg het per e-pos aan George Herald gesê voordat sy die rol gekry het, het sy gedroom sy speel in 'n film oor een van Dalene Matthee se boeke. "Dit was wonderlik. 'n Week later kontak my agent my om te sê hulle gaan Toorbos maak en wil my graag sien vir 'n oudisie. So sien, drome word waar!"
Sy moes 'n aksent aanleer van die boskappers van die middel 30's.
"Hierdie was 'n reuse-uitdaging, maar die stemafrigter was wonderlik en dit was 'n heerlike ervaring om 'n hele nuwe aksent in Afrikaans aan te leer. Meliena het ook, anders as ek, met geen geriewe of ware liefde grootgeword nie. Om in haar geharde lyf en geskiedenis in te klim en begrip te vind vir hoekom sy so hard op haar dogter is, was uitdagend en terselfdertyd 'n voorreg."
Blanckenberg se oorlede pa was in die bedryf en sy is op 'n jong ouderdom aan toneel blootgestel. Op sewe het sy al 'n oorklankingsrol gehad as Elizabeth in die Waltons-gesin se reeks op TV. Dit het 'n hele klompie jare geduur.
Vandag is sy vryskutakteur wat ook stemwerk en oorklanking doen, audioboeke lees en haar eie dramaskool het. "Maar om ma te wees bly my heel grootste voorreg van alles," sê sy. Sy en haar akteurman, Waldemar Schultz, het hul seun in 2013 verloor toe hy van 'n krans by die see in Hermanus afgeval het. Hulle het ook 'n dogter, Dhania.
Blanckenberg het in 1989 aan Hoërskool Outeniqua gematrikuleer. Sy het in gr. 11 by die skool aangesluit nadat die gesin van die Kaap af hierheen verhuis het. "As Kapenaar en kunstenaardogter het ek maar baie vreemd gevoel om begin gr. 11 in my borriegeel rok in 'n vreemde skool in te stap. En tog het al die kinders my deel van hulle laat voel. Ek het lekker herinneringe van hoofdirigent wees op interskole, swemdae by Vicbaai en heerlike koshuismoles."
Ira Blanckenberg as Meliena Kapp in 'Toorbos' wat in die Knysna-woude verfilm is.
Hier volg 'n paar vrae van die George Herald wat Blanckenberg per e-pos beantwoord het:
V: Vertel meer van die karakter Meliena Kapp - hoe jy jou in die rol ingeleef het en haar ervaar het?
A: Ek vertolk die rol van Meliena Kapp, die hoofkarakter, Karoeliena, se ma. Sy is 'n geharde bosvrou wat armoede en swaarkry ken. Sy sal enige iets doen om haar dogter daarvan te red om dieselfde swaar bestaan as sy te moet voer.
V: Hoe het jy die ander lede van die filmspan ervaar? Hoe het jy en René van Rooyen saamgewerk?
A: René is ‘n ongelooflike regisseur en ek het die wêreldse respek vir haar. Sy het soveel kennis, geduld, vertroue in haar akteurs en het almal laat veilig voel terwyl sy deurentyd die groot prentjie van die film in gedagte gehou het. Sy is ‘n groot inspirasie vir my. Die hele span was net wonderlik. Theola Booyens op grimering het my verstom met haar wonder bydrae om my Meliena gehard, gehawend en moeg te laat lyk. Die ander akteurs was wonderlik talentvol, van die ongelooflike jong Elani Dekker wat my dogter vertolk, tot die wonderlike Andre Odendaal wat my ‘man’ gespeel het.
V: As jy werklik Meliena Kapp was, wat sou jy in daardie omstandighde gedoen het om jou begeerte vir 'n toekoms vir jou kind te bewaarheid - sou jy tot dieselfde uiterstes gegaan het en jou morele oortuigings onderdruk het?
A: Na al my navorsing het ek totale begrip vir Meliena se determinasie om haar dogter uit daardie omstandighede te kry. Ek dink enige ma sal haar eie lewe opoffer om ‘n beter lewe vir haar kinders te verseker.
V: Hoe het dit gevoel om weer in die omgewing te wees waar jy grootgeword het, (of kom julle in elk geval gereeld hier)? Is jy in George gebore?
A: My ouers het Stilbaai toe getrek vir 'n paar jaar toe ek in gr. 11 was. So ek kom nooit in die George-omgewing nie, maar is baie lief daarvoor om een keer 'n jaar in Wilderness te kampeer. Die bos is regtig toweragtig en vul my siel met vreugde en vrede. Om elke oggend werk toe te ry (met die verfilming) in die bos was ongelooflik.
V: Hoe voel jou familie oor die sukses wat jy behaal het?
A: Ag jong, ek en my man is in die bedryf. Ons mense weet dis maar net ‘n werk, ‘n werk wat jou toevallig soms in die publieke oog plaas. Dit maak jou nie meer spesiaal nie. En ek moet steeds eerste deps as ek by familiebyeenkomste nie wil skottelgoed was nie.
V: Het jy drama op skool gedoen?
A: My pa was in die bedryf so ek het my hele lewe lank kompetisies en oorklanking gedoen. In my tyd is daar nie Drama as skoolvak aangebied nie, anders sou ek beslis. Ek het wel Drama geswot en my B.Dram. Honneursgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal.
V: Wat was jou eerste groot rol?
A: Dis nou ‘n vraag en 'n half. Miskien my oorklankingsrol toe ek 7 was, as Elizabeth in die Waltons gesin op TV. Dit het vir ‘n klomp jaar voort geduur.
V: Wat is vir jou die mees bevredigende - die verhoog, TV of film?
Moeilike vraag. Albei het dinge wat dit ‘n gunsteling maak. Ek dink vir enige akteur is die verhoog, met die lewendige gehoor en die onmiddellikheid van die optrede, ‘n absolute voorreg en 'n lekkerte. Op die verhoog hang alles ook van die akteur af, as dinge verkeerd gaan kan jy nie sny of stop nie, die akteur moet dit maak werk. Wat film wonderlik maak, is dat jy ongelooflik klein, intiem en eerlik kan speel.
V: Vertel bietjie meer van jou dramaskool?
A: Ek het reeds 11 jaar ‘n Dramaskool, Stageright Drama, op Somerset-Wes waar ek leerders van 7 tot 18 jaar oplei in Drama. Ek het so 80 studente en dit is vir my ongelooflik lekker om met die jeug te werk en my kennis met hule te deel. Hulle leer my ook daagliks so baie.
V: Hoe pas jy die skool in by jou loopbaan as aktrise, mawees en vrouwees?
As vryskut akteur leer mens om baie goed te juggle. Om te oorleef in die industrie moet 'n mens veelsydig wees. Ek doen ook stemwerk, oorklanking, lees audioboeke, en nog meer. Om ma te wees bly my heel grootste voorreg van alles.
V: Wat doen jy en jou gesin wanneer julle gesinstyd saam geniet?
A: Ons hou van braai (watter Suid-Afrikaner doen nie) met die res van die familie. Saam speel ons ook graag bordspeletjies en vollyeball en besoek koffiewinkels.
Toorbos het die Works in Progress (WIP)-toekenning vir 'Finale Meng' gewen by die 2018 Kaapstad Internasionale Filmmark en -fees (CTIFMF). Toorbos was een van vyf fiktiewe flieks wat gekies is uit 54 inskrywings vanaf 15 lande in Afrika om aan die CTIFMF Works in Progress-program deel te neem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'