GEORGE NUUS - Denise Lloyd het 'n vergadering bygewoon van die Mosselbaai-besigheidskamer oor die moontlikheid om uitvoere uit die Suid-Kaap en Klein-Karoo via die George-lughawe en Mosselbaai-hawe te kanaliseer.
Landbouaktiwiteite en die ekonomie van die Suid-Kaap en Klein-Karoo kan 'n reuse-ekonomiese inspuiting kry indien produkte van hierdie streek direk via die George-lughawe en Mosselbaai-hawe uitgevoer word. Beide die fasiliteite word onderbenut in hul kapasiteit om uitvoere te hanteer.
Direkte uitvoere van veral bederfbare produkte vanaf hierdie twee sleutelpunte kan daartoe lei dat die streek 'n ongekende opbloei kan beleef. Die wenslikheid en werkbaarheid van direkte uitvoere het onder die loep gekom by 'n vergadering deur die Mosselbaai-besigheidskamer vir strategiese rolspelers by Down To Earth in Heroldsbaai.
Beide dié strategiese fasiliteite is reeds gevestig, die logistiek en bekostigbaarheid van hul dienste, asook die omvang van die moontlike uitvoere en produkte moet egter nog bepaal en in plek gesit word.
By 'n konferensie vir die streek verlede jaar deur die Mosselbaai-besigheidskamer om dorpe se bates te bespreek, was daar 'n versoek van boere van die Kamanassie-distrik om hul vye direk vanaf die George-lughawe uit te voer. Die idee het toe ontstaan om verteenwoordigers van Airports Company South Africa (Acsa) en Transnet (vir die hawe) byeen te roep om die moontlikhede van direkte uitvoere te bespreek.
Lewendige belangstelling
Bykans 50 belangstellendes het verlede Donderdag die werksessie bygewoon. Die verteenwoordigers wat vier uitvoeragente, rolspelers in die landbou, verteenwoordigers van Oudtshoorn, George en Stilbaai se besigheidskamers, raadslede van Mosselbaai-munisipaliteit asook verteenwoordigers van die Mosselbaai-hawe en 'n sterk span verteenwoordigers van Acsa, ingesluit het, het getoon dat daar beslis 'n behoefte is en dat die streek se ekonomie daarby kan baat.
Verteenwoordigers van besighede wat reeds uitvoer en boere wat aanplantings doen met die oog op uitvoer in die toekoms, het ook insette gelewer.
Die bemarker vir vye uit die Kamanassie-streek, Danel van Deventer, het gesê dat hulle reeds 100 ton vye oor 'n periode van 10 weke uitvoer en dat heelwat aanplantings gedoen word wat die uitvoere in die afsienbare toekoms sal verdubbel. Die vye word per pad na Port Elizabeth vervoer vanwaar dit verskeep word.
Die verteenwoordigers van Berryworld SA het aangedui dat hulle reeds 1 400 ton uit die area uitvoer en dat hulle beslis van die George-lughawe en Mosselbaai-hawe gebruik sal maak as dit koste effektief is.
Acsa aan boord
Nina Engelbrecht-Malherbe, Acsa se senior spesialis: Vrag, het gesê daar word reeds 'n geruime tyd vrag vanaf die lughawe uitgevoer.
Dit gebeur meestal as deel van die passasiersvlugte. Trouens, Acsa kan binne 24 uur goedere van George via Durban, Kaapstad en Johannesburg na 156 bestemmings, wêreldwyd (insluitend Afrika) vervoer.
Haar kollega, André Vermeulen, het gesê dat daar wel veranderings aan die bestaande lughawe gemaak moet word om die aanvraag na vragverskuiwing aan te spreek. Volgens hom is daar befondsing van tussen 150 miljoen en twee honderd miljoen wat onmiddellik beskikbaar is sodra 'n volledige behoeftebepaling van vragvolumes en gereeldheid gedoen is. Tegniese oplossings rondom infrastruktuur by die lughawe en hawe moet bespreek word en 'n kosteontleding ten opsigte van lug-, pad- en seevervoer moet gedoen word.
Vermeulen het ook onderneem om 'n afvaardiging van hoof- uitvoerende beamptes van lugrederye na die Suid-Kaap te bring sodat hulle hulself kan vergewis van die potensiaal en die uitbreidings wat hier plaasvind ten opsigte van produkte wat uitgevoer kan word.
Die Mosselbaai-hawe, wat lank hoofsaaklik vir die aktiwiteite van PetroSA gefunksioneer het, is ook gereed om sy fokus en aktiwiteite uit te brei om meer op in- en uitvoere te konsentreer. Volgens Dave Keller, het die hawe die kapasiteit om houers te hanteer. Daar is ook reeds maatskappye wat bereid is om by die hawe aan te doen, indien daar genoeg houers is om te verskeep.
Keller het verduidelik dat daar oorgenoeg bergingspasie by die Voorbaai-spoorwegdepot -7,24 km van die hawe af - is. Die houers kan daar geberg word en per spoor na die kaai gebring word om daarvandaan verskeep te word. Produkte word reeds vanaf die hawe na byvoorbeeld Port Elizabeth verskeep vanwaar dit oorgelaai word op skepe wat dit oorsee neem.
Rolspelers wat deelgeneem het aan die besprekings rondom uitvoere, van links, voor: kapt. Vania Cloete (hawebestuurder: Mosselbaai), rdsl. Marie de Klerk (Mosselbaai-munisipaliteit), Brenda Vorster (bestuurder: George-lughawe) en Donnelly van Voorst (Acsa). Agter: Jacqui Ferreira en Nina Engelbrecht-Malherbe (albei van Acsa), Dave Keller (hawe), Rean Pretorius (Stilbaai-sakekamer), Fanus Truter (Mosselbaai-besigheidskamer en sameroeper), Dirk Kotzè (Mosselbaai se onderburgemeester), Anton Dellem. Foto: Denise Lloyd
Paul Hoffman van SCEP (Southern Cape Economic Partnership) het die groeipotensiaal van verskeie produkte vir die uitvoermark bespreek. Hy het verwys na die onlangse Tuinroete-beleggingskonferensie wat deur Eden-distriksmunisipaliteit belê is en waar 49 projekte vir potensiële beleggings geïdentifiseer is. Versoeke en navrae van veral die Sweedse en Chinese afgevaardigdes is ontvang rondom die uitvoer van produkte uit die Tuinroete en Klein-Karoo.
Volgens statistiek van Wesgro wat Hoffman aangehaal het, is die potensiaal vir direkte uitvoer uit hierdie streek baie hoog. In 2015 was die totale uitvoere R2,6 biljoen en dit neem steeds toe. Die topmarkte vir uitvoere vanaf Eden was Amerika, die Verenigde Koninkryk, Frankryk en Namibië. Die uitvoere na China en Mexiko het ook sterk toegeneem. Die topprodukte was sitrus, leer, sade, vrugte, vleis, velle en gevriesde vis.
Ander produkte wat baie gewild is, is proteas (Nederland), macadamias, avokado's, aarbeie, wyn, blomme en loof, hops, granate, olywe en kiwivrugte. Dan is daar ook nog hout, houtskool, afvalmateriaal, groentesaad, volstruisprodukte asook aalwynprodukte wat reeds vanuit hierdie area uitgevoer word.
Vrugte wat in die Waboomskraal- en Langkloof-omgewing verbou word, word tans vanaf Coega (Port Elizabeth) uitgevoer aangesien die infrastuktuur daar is. In die toekoms mag dit dalk meer koste-effektief wees om dit vanaf die George-lughawe te doen.
Deon Barnard van Waboomskraal het die dag opgesom deur te noem dat indien almal se hoeveelhede en kapasiteit saamgevoeg word, dit genoegsaam sal wees om die uitvoere van George-lughawe en Mosselbaai-hawe 'n werklikheid te maak. Dit mag wees dat daar dalk 'n paar vraghouers te min sal wees, maar dit is beslis beter om 20% produkte van ander areas hierheen te vervoer as om 80% plaaslike produkte na ander areas te vervoer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'