Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Matrikulant aan Hoërskool Outeniqua word getel onder die swaargewigte wat dié skool al opgelewer het.
Jaco Jacobs (17) is Maandagmiddag tydens 'n intieme geselligheid by die skool vereer, 'n week voor sy reis na Taiwan waar hy sy wetenskapprojek by die 2023 Taiwan International Science Fair (ISF) van 6 tot 10 Februarie ten toon gaan stel.
Die geleentheid vind plaas by die National Taiwan Science Education Center in Taipei.
Die uitnodiging na Taiwan volg na sy ongelooflike sukses tydens die Eskom Expo International Science Fair (ISF) in Johannesburg, verlede jaar in Desember, waar Jaco 'n goue medalje en verskeie groot pryse ingepalm het.
Jaco is een van twee leerders in Suid-Afrika wat na Taiwan genooi is.
Die ander leerder is Dia Singh, 'n gr. 12-leerder van St Dominic's School in Newcastle, KwaZulu-Natal. Jaco se projek fokus op die belang van lugdruk in fietsbande. Jaco het 'n toestel ontwerp wat 'n fietsryer in staat stel om banddruk aan te pas terwyl hy/sy fietsry.
Sodoende kan 'n fietsryer makliker op verskillende terreine beweeg en word sekere algemene probleme uitgeskakel.
'n Verteenwoordigers van die Wes-Kaapse departement van onderwys, Eskom, Eskom Expo, Hoërskool Outeniqua, sowel as Jaco se ouers, het die geleentheid bygewoon waar Jaco op 'n spesiale manier voor sy ekskursie gegroet is. Jaco se wetenskaponderwyser, Yvette Pitts, is "super trots" op haar leerder. Sy was eerste aan die woord met sy bekendstelling aan die gaste.
Jaco Jacobs is self 'n kranige fietsryer. Foto: Anine Koch Photography
Baanbreker
Die onderhoof van Hoërskool Outeniqua, Chris Hattingh, het in sy praatjie na die skool se eeufees vanjaar verwys. "Jy raak deel van 'n ongelooflike geskiedenis," het hy vir Jaco gesê.
"Oor 'n tydperk van 100-jaar kry 'n mens leerders wat absoluut uniek is. Die skool het verskeie groot wetenskaplikes opgelewer. Jy [Jaco] is 'n grens-verskuiwer en 'n baanbreker."
Volgens Hattingh het Jaco werklik navorsing gedoen en nuwe velde ontdek. "Jy het sit en dink oor dinge en waarde toegevoeg tot mense se lewens. Dit is 'n alleenreis, maar dit sal mense inspireer. Geniet elke oomblik in Taiwan."
Lyndon Manas, Eskom Expo se provinsiale koördineerder, het Jaco een van die ekspo se "wonderkinders" genoem. Manas het vertel van sy drie jaar reis saam met Jaco, waartydens Jaco sy projek in fyner detail ontwikkel het. Hy het Jaco se deursettingsvermoë en kritiese denke geprys.
Ferdinand Heymann, 'n elek-troniese ingenieur van Eskom, het gesê hy is mal oor Jaco se projek vanuit 'n gebruikersoogpunt. Heymann is self 'n kranige fiets-ryer, en het met sy e-fiets by die geleentheid opgedaag.
"Jy is 'n ambassadeur vir die provinsie en vir die hele land," het Heymann gesê.
Rosseau Mercuur, WKOD se hoof van kurrikulum, het gesê die Eskom Expo is 'n ideale platform vir leerders om te gebruik en te benut.
VIDEO: Wetenskap boffin (17) oppad na Taiwan
Jaco Jacobs in aksie op sy fiets. Foto: Deidre Cloete
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'