Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Oom Koos Cronjé een van George se bekendste haarkappers is vandag, 3 Februarie, 80 jaar oud.
Oor die jare het hy al letterlik duisende mense se hare gesny waaronder bekendes soos wyle PW Botha, Hansie Cronjé en Eric Nobbs.
Baie mense ken hom en sy twee assistente, Charmaine Boshoff en Zylia Ryksen baie goed waar hulle oud en jonk, mans en vroue, en seuns en dogters se hare sny by Koos Cronjé Haarkappers in Meadestraat.
Charmaine en Zylia het vanoggend vir hom die tradisionele, Veels geluk liewe maatjie, gesing.
Oom Koos kom oorspronklik van die Paarl en daar het hy as skoolseun geleer om hare te sny.
Al kom hy van die Paarl is hy ‘n Blou Bul-ondersteuner. Hy is lief vir gesels oor sport en maak ook graag musiek. Hy kan kitaar, konsertina en mondfluitjie speel.
Oom Koos Cronjé is vandag 80 jaar oud. Hier sit hy vanoggend by sy winkel waar hy oor die jare al duisende mense se hare gesny het. Foto's: Eugene Gunning
VIDEO: Oom Koos is 80
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'