Behalwe vir sewe motors, ‘n motorfiets, ‘n rivierboot en ’n sleepwa wat verlede Vrydagoggend totaal deur die brand verwoes is, is al die besigheid se gereedskap, masjinerie en die gebou self verwoes.
‘n Gebroke mnr. Hein Lamprecht, eienaar van Lamprecht Motors, vertel dat hy en sy vrou, Olivia omstreeks 01:30 die Vrydagoggend deur die sekuriteitsfirma, MSec, in kennis gestel is dat die alarm by hul motorherstelbesigheid afgegaan het. Die Lamprechts het hulle daarheen gehaas, net om dit in vlamme gehul te vind.
Mnr. Lamprecht kon daarin slaag om vier motors uit die vlamme te red, maar is in die proses self ook beseer. Behalwe vir een van die Lamprechts se motors, hul sleepwa, veerboot en motorfiets wat nie verseker was nie, het nie een van die ses kliënte, soos ook die Lamprechts, versekering op die motors gehad nie. Die inhoud van Lamprecht Motors was ook nie verseker nie. Slegs die gebou is verseker.
‘n Waardebepaling van die skade kon nog nie gedoen word nie.
Mnr. Lamprecht sê die George-branweerdienste het hul bes probeer om die brand te blus, maar hulle het nie die regte toerusting gehad om ‘n brand van daardie omvang effektief onder beheer te bring nie. Volgens hom moes die polisie tot ‘n flitslig aan hulle leen.
Lamprecht praat met groot lof van die gebou se eienaars, mnre. Gordin Nevy en Piet Bredhell, wat hulle bygestaan het met die verlies. Hy sê ‘n vriend, mnr. Kallie Claassen, het ook nie gehuiwer om hom, ná die brand geblus is, te help om die vier voertuie wat hulle kon red, na ‘n ander stoorplek te sleep nie.
"Die hulp, meelewing en simpatie is oorweldigend. Ons het alles verloor, maar sal nie gaan lê nie. Lamprecht Motors sal weer tot sy reg kom. Bid net vir ons," het mnr. Lamprecht gesê.
Die polisie se forensiese deskundiges het die brandtoneel besoek het, maar kon gee bewyse van brandstigting vind nie. Die moontlikheid van ‘n elektriese vonk vanuit die dak word nie uitgesluit nie.
.jpg)
Dié Vuka-motorfiets is ook vernietig in die brand. Dit het slegs 200km op die afstandmeter gehad.
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS