GEORGE NUUS - Die gewilde Pelgrimstog van Hoop, Tuinroete-staptog, verskyn eersdaags op nasionale televisie.
Erns Grundling, bekende aanbieder van die TV-reeks, Elders, en 'n produksiespan, Bonanza-films is op die oomblik in die gebied vir opnames.
Die span het verlede Vrydag, 29 April, van Herold tot by die tolhuis aan die voet van die geskiedkundige Montagupas gestap. Hulle het Dinsdag 3 Mei voortgegaan om opnames te maak. Tydens Dinsdag se opnames het oom Chris Lamprecht, bekende in musiekkringe, van sy eie komposisies op 'n ou orrel gespeel.
Die roete is verlede jaar bekendgestel. Grundling was een van die eerstes om aan 'n verkenningstog in Junie 2021 op die roete deel te neem.
Die huidige groep, wat onder meer twee kameramanne, 'n klankman en 'n regisseur insluit, het op 11 April in Uniondale weggespring. Hulle het Dinsdag van die tolhuis tot by Arendsvlei tussen George en Groot-Brakrivier gestap. Hulle sal die tog op Dinsdag 10 Mei by die St. Blaise-ligtoring in Mosselbaai klaarmaak.
Dit beloop 'n afstand van sowat 270 km en gewoonlik neem dit 10 tot 14 dae om klaar te maak.
Dit is baie gebaseer op die Camino de Compastello-staproete in die noorde van Spanje wat jaarliks groot getalle besoekers van oor die wêreld lok.
Grundling het Maandag gesê dit neem bietjie langer om die staptog klaar te maak omdat hulle besig is met opnames vir 'n televisieprogram. Soms bly die produksiespan 'n dag ekstra om die opnames te voltooi.
"Ek poog om self die Pelgrimstog saam met die kameraspan te stap." Gewoonlik begin hulle soggens om 07:00 met opnames en stap tot sononder. Grundling is die aanbieder en 'n medevervaardiger.
Volgens Grundling het hy verlede jaar teen die derde dag geweet hy sal moet terugkeer met 'n kameraspan om 'n program te kom maak omdat die natuurskoon en die mense so besonders is.
Die spesifieke pelgrimstog is ongewoon omdat byna 95% van die roete op grondpaaie is wat ideaal is vir 'n stapper. Hy stap nie alleen tydens die tog en daar is 'n verskeidenheid van mense wat saamstap. Onder hulle was al bekendes soos die akteur Frank Opperman. Ds. Gert Nothnagel, leraar van die NGK Herold-gemeente, het Vrydag saamgestap.
Die reeks bestaan uit 13 episodes van sowat 23 minute elk. Die eerste episode word op Maandag 4 Julie om 20:00 op kykNET uitgesaai.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het gesê die program beteken nie net baie vir die staptog nie. Die blootstelling beteken ook baie vir die tolhuis en toerisme in George en die Suid-Kaap.
Die produksiespan van die TV-reeks, Elders, Dinsdag besig met opnames by die ou tolhuis.
Erns Grundling, aanbieder van die program Elders, voor die kameras. Heel links staan Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'