Sebastiaan was ingeskryf vir meganiese ingenieurswese by die Skiereilandse Universiteit van Tegnologie.
Hy is die seun van George-sakeman Hannes Bezuidenhout van South Cape Flooring.
Mev. Isa Bezuidenhout (47), wat saam met haar seun in die motor was, is steeds in ‘n kritieke toestand in die Tygerberg-hospitaal nadat sy twee nekwerwels gebreek en swelling op die brein opgedoen het.
Volgens ‘n familievriend, me. Zelda Pienaar, het die botsing reg van voor buite Riviersonderend plaasgevind en moes mev. Bezuidenhout, wat aan die passasierskant gesit het, met meganiese kake uit die wrak bevry word.
Pienaar sê Sebastiaan se onverwagse dood is vir hulle almal ‘n verskriklike skok.
"Hy was ‘n besonderse kind, so avontuurlustig en baie geliefd onder oud en jonk. Hy was uiters hardwerkend en baie goed met sy hande."
Sy sê Sebastiaan het vreeslik daarna uitgesien om te gaan studeer. Hy het in 2009 aan Oakdale gematrikuleer en ‘n rusjaar geneem om op sy oom se plaas buite Swellendam te gaan werk.
Skool mis hom ook
Mnr. André Latsky, skoolhoof van die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal, sê dit was baie sleg om Maandag die seuns te groet ná die vakansie en by die eerste saalbyeenkoms te vra hulle moet staan vir ‘n oomblik van stilte vir hulle ou maat.
"Sebastiaan was ‘n ongelooflike, voorbeeldige laatie - stil, op sy plek en lief vir sy skool," sê Latsky. "Hy het altyd sy kant gebring en sal onthou word as ‘n gebalanseerde, opregte, lojale Oakdaler van wie almal gehou het. Ons betreur sy afsterwe en simpatiseer opreg met sy ouers."
Mev. Bezuidenhout het Maandag ‘n operasie ondergaan om haar gebreekte werwels te heg, maar dokters hou haar nog onder sterk verdowing. Pienaar kon nie sê of sy weet van Sebastiaan se dood nie.
Mnr. Bezuidenhout en die egpaar se dogter, Aretha (21), beplan ‘n verassingsdiens vir Sebastiaan in Kaapstad en sal later ‘n gedenkdiens hier in George hou.
.jpg)
Die Bezuidenhout-egpaar, Hannes en Isa
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA