TUINROETE NUUS - Dit is vanjaar reeds die sesde jaar van die menslike papiloomvirus (MPV)-veldtog, waarvan nagenoeg 2 miljoen dogters in Suid-Afrika reeds die entstof ontvang het. Skoolverpleegkundiges in die Tuinroete staan gereed om tussen 11 Februarie en 20 Maart alle openbare skole te besoek om vir dogters 9-jaar en ouer in gr. 5 die inenting toe te dien, asook klem-in-die-kaak vir beide dogters en seuns.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid moedig ouers en versorgers aan om die immuniseringsveldtog teen MPV, wat tot servikskanker lei, asook 'n inspuiting om kinders teen klem-in-die-kaak en witseerkeel te beskerm, te ondersteun.
Rhona Irving, skoolgesond-heidsverpleegkundige, het al baie kinders tydens haar loopbaan ingeënt. "Dit bly vir my lekker om 'n diens aan ons kinders te bied. Dit maak my ook hartseer wanneer kinders nie die nodige toestemming van die huis af terugbring vir inentings nie, veral wanneer ek weet hoe 'n belangrike rol dit in hulle gesondheid speel," het Irving gesê.
Die MPV-entstof is veilig en 'n voorsorgmaatreël teen servikskanker. Wanneer die entstof op hierdie jong ouderdom toegedien word, kan die liggaam 'n sterk weerstand opbou teen die virus.
Elke meisie kry twee inspuitings, vyf tot ses maande uitmekaar. In vorige veldtogte is dit aan gr. 4-meisies wat 9-jaar of ouer is, toegedien, maar dit word aangepas na gr. 5-dogters om sodoende meer dogters in te sluit wat later in die jaar verjaar.
Die diens word gratis gelewer.
Inenting is noodsaaklik.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'