GEORGE NUUS - Twee gewelddadige voorvalle teen honde in Pacaltsdorp is die afgelope naweek aan Pacaltsdorp-polisie en die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) gerapporteer.
'n Groep minderjariges het Saterdagmiddag naby Petuniastraat saamgedrom om 'n brutale hondegeveg tussen twee Amerikaanse veghonde (pit bulls) te sien.
Volgens Salomé Bruyns, senior inspekteur van die DBV, is die DBV omstreeks 17:30 na die toneel ontbied. Bruyns sê een van die honde is tans by die DBV, en sterk goed aan. Bruyns vermoed die ander hond se beserings is erger, en die DBV is steeds op soek na hom.
Die DBV is in besit van 'n video-opname en Bruyns sê daar sal teen die skuldige persone opgetree word. Die voorval word ondersoek.
In nog 'n wrede voorval in Violetstraat is 'n hond Saterdagaand verbrand. Volgens die Pacaltsdorp-polisie is die verdagte bekend aan die eienaar van die hond. Dieselfde verdagte het die hond drie weke gelede gesteek. Die saak word ook ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'