Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dis nie toevallig dat 'n oefengroep in Pacaltsdorp na die gewilde Nederlandse renjaer, Max Verstappen, vernoem is nie. Die Verstappen Hike and Fitness Group beweeg net so blitsig soos die Formule 1-renjaer en gaan van krag tot krag.
Dit is die breinkind van Randall Meyer (59) wat glo dat mense moet opstaan en begin oefen.
Die groep het egter nie oornag tot stand gekom nie en Meyer het self 'n lang pad geloop voordat hy die erns en waarde van oefen begin besef het.
Hy kom oorspronklik van Mosselbaai en was voorheen in onder meer die taxibedryf betrokke. Met die uitbreek van Covid-19 het hy die bedryf verlaat.
Sy pad na 'n nuwe gesonde leefstyl het sowat 10 jaar lede begin. Een oggend het sy neus begin bloei. Hy het op 'n sypaadjie gesit en iemand moes hom ophelp. Hy het dadelik na 'n kliniek gegaan en na 'n ondersoek is hy meegedeel dat hy 'n beroerte gehad het. Gelukkig het die bloed nie na sy brein gegaan. Hy was oorgewig en het besef hy kan nie so aangaan nie.
Aanvanklik het hy op 'n klein skaal in sy eie erf begin oefen. Later het hy bietjie verder gegaan en om die blok begin hardloop.
Sowat drie jaar gelede het hy besef daar is 'n behoefte vir 'n stapgroep en dat mense saam wil oefen. 'n Groep van so vyf tot ses mense het begin oefen. Na sowat 'n jaar en ’n half het hulle weens Covid opgehou.
Meyer het egter voortgegaan om op sy eie te oefen. Middel verlede jaar het hy besluit om die groep te laat herleef. Aanvanklik was dit net twee vroue en 'n seun. Dit was baie informeel. Kontak is gemaak met ander groepe en die groep het sy huidige naam gekry.
Hy is ook betrokke by uitstappies teen die Outeniquaberge en onlangs het 'n groep Tierkop uitgestap.
VIDEO: Oefengroep vernoem na Max Verstappen
Randall Meyer wys hy is gereed om te oefen. Foto: Eugene Gunning
Oor die voordele van oefen kan hy nie uitgepraat raak nie. Dis in die natuur, dis gesond en bied ook geleenthede om nuwe vriende te maak. So tussendeur die oefen word gebou aan menseverhoudinge en dis interessant hoe verskillende groepe meer van mekaar leer.
Hy het benadruk mense moet dit nie doen om gewig te verloor nie, maar om gesond te leef. Hy is nie 'n dokter nie, maar dis duidelik hoe meer iemand oefen, hoe minder siektes het hy/sy. As iemand fiks is, het hy/sy meer energie en werk beter.
Hy doen 'n beroep op mense veral mans om te begin oefen. Sy ervaring is dat vroue geneig is om meer spontaan te begin oefen, terwyl mans dink hulle kan eerder voor die televisie ontspan.
Op die oomblik is daar soggens oefensessies tussen 08:00 en 09:00 vir vroue. Dinsdae en Donderdae na werk oefen 'n groep van 17:30 tot 18:30.
Mense wat belangstel kan hom kontak by 064 146 9822..
'n Groep vroue tydens een van die oefensessies.
Tyd vir bietjie ontspan na 'n staptog.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'