GEORGE NUUS - Die samestelling van die nuwe boekjaar se kragtariewe wat op 1 Julie in George van krag word, verskil van die ou tariefstruktuur deurdat dit gekoppel word aan 'n maksimum verbruikskapasiteit.
Dit beteken hoër kragverbruikers sal bykomend tot die gemiddelde verhoging van 7,47% in die tarief, vir twee addisionele vaste tariewe opdok: 'n basiese tarief en 'n kapasiteitstarief.
Vir diesulkes is daar 'n troosprys: In stede van R2,76 per eenheid sal jy R2,42 betaal.
Die bykomende, vaste tariewe sal slegs van krag wees wanneer 'n huishouding geregistreer is vir 'n kapasiteit van hoër as 20 Ampere. Verbruikers kan self hul kapasiteit kies en dit registreer deur 'n aansoekvorm te voltooi, so nie sal die munisipaliteit self voorlopig 'n kapasiteit aan jou toeken gebaseer op jou gemiddelde verbruik van die afgelope 12 maande.
Volgens Chantel Edwards, George-munisipaliteit se kommunikasiehoof, behoort 20 Ampere se kapasiteit voldoende te wees vir mense wat minder as 600 kWh per maand gebruik. Dit maak die meerderheid van verbruikers uit.
Die volgende gleuf waarvoor 'n huishouding kan registreer, is 30 Ampere. So 'n verbruiker sal R243,10 (R86,47 basies plus R156,63 kapasiteit) betaal voordat enige krag gebruik is, maar die eenheidstarief is 'n bietjie laer.
Die vaste tarief word meer soos wat 'n huishouding se geregistreerde kapasiteit verhoog (40 Ampere, 50 Ampere en 60 Ampere).
Die vaste tarief van toepassing sal nie deel uitmaak van die eenheidstarief nie (R2,42), maar sal reflekteer op jou diensterekening.
'Moenie eenhede in grootmaat koop voor 1 Julie nie'
'n Huishouding met 'n gemiddelde maandelikse kragverbruik van tussen 750 en 900 kWh sal 'n kapasiteit van 30 Ampere nodig hê.
Vir verbruik bo 900 kWh is daar kategorieë vir kapasiteit van 40 Ampere, 50 Ampere en 60 Ampere waarvoor verbruikers kan registreer. In al hierdie kategorieë betaal die verbruiker die verminderde eenheidstarief.
Edwards waarsku dat verbruikers dus nie eenhede in grootmaat moet koop voor die einde van die finansiële jaar as hulle wil baatvind by die laer koste per kWh nie.
Beperking volgens kapasiteitskeuse oor 2 jaar uitgerol
Die nuwe tariewe sal van krag wees vanaf 1 Julie, maar implementering van die beperking volgens die keuse van die kapasiteit vir elke huishouding sal uitgerol word oor 'n periode van maksimum twee jaar.
Verbruikers wat weet wat hulle lading is en hoeveel kilowatt-ure hulle per maand gebruik, kan egter nou al hulle kapasiteit kies.
"As jy egter nie weet wat jou huishouding se kapasiteit is nie, hoef jy nie nou dadelik 'n keuse te maak nie. George-munisipaliteit sal kyk hoeveel jou huishouding oor die afgelope 12 maande gebruik het en 'n geskikte kapasiteit vir jou kies tot 'n maksimum van 40 Ampere.
"Die meerderheid verbruikers, naamlik diegene wat minder as 600 kWh per maand gebruik, behoort met 20 Ampere-kapasiteit (4 600 Watts) klaar te kom as die lading bestuur word. Dit sal verseker dat die prysverhoging nie meer is as die gemiddelde tariefverhoging nie," sê Edwards.
Opsie om keuse van kapasiteit te verander
Verbruikers wat die keuse aan die munisipaliteit oorlaat, sal die geleentheid kry om die gekose kapasiteit tussen Julie 2022 en Junie 2023 te verander, asook een keer per finansiële jaar daarna.
Behoeftige huishoudings
Geregistreerde behoeftige huishoudings sal geen vaste tariewe betaal nie, maar sal hulle voorafbetaalmeter se toevoer tot 20 Ampere moet beperk.
Die eenheidstarief vir behoeftige huishoudings met 'n verbruik van tot 400 kWh is R2,08.
Bestuur die gebruik van elektriese toestelle
Edwards verduidelik dat die hoeveelheid Ampere nie die hoeveelheid krag is wat 'n mens gebruik nie, maar dit verwys na die kapasiteit wat nodig is om die toestelle in 'n huishouding te voorsien.
"Byvoorbeeld, vir 'n standaard huishouding wat 'n stoof, yskas, vrieskas, ensovoorts gebruik, behoort 20 Ampere genoeg te wees, maar dan moet 'n mens versigtig wees en die lading bestuur. 'n Mens kan nie toestelle saam gebruik wat in totaal 'n lading van ten minste 4 600 Watt benodig nie.
"Dit beteken die verbruiker kan maklik al die ligte, radio's, TV's met dekodeerder, yskas, vrieskas, waaier, rekenaar, alle tipes laaiers en broodrooster aanhê, maar hittegenererende toestelle moet bestuur word. Hulle sal nie saam gebruik kan word nie, want dan sal die krag afskop."
Toestelle wat hitte genereer is onder meer tuimeldroërs, wasmasjiene, skottelgoedwassers, verwarmers, ketels, stowe, geisers, lugversorgers, haardroërs en ondervloerse verhitting.
"As jou normale huishouding van so 'n aard is dat hierdie maatreëls te ongerieflik is, of as die stroombreker aanhou afskop, moet jy dit oorweeg om 'n effens groter toevoer soos 30 Ampere te kies.
Ander opsies is om jou kook- en huisverwarmingsgeriewe oor te skakel na gas en waterverhitting na sonkrag, of isolasie in die huis te laat installeer."
Lees meer hieroor asook 'n Engelse-artikel, How electricity tariffs will work from 1 July 2022.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'