Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Die George-munisipaliteit het gister strenger waterbeperkings afgekondig nadat die vlak van die Tuinroetedam, die dorp se hoofwaterbron, tot onder 45% gedaal het.
Met die nuwe vlak 2C-beperkings word huishoudelike waterverbruik tot 15 kiloliter beperk en is noodtariewe ook van toepassing.
Die munisipaliteit se watervlakmeting gister, Woensdag 2 Augustus, het op 44,82% gestaan, soos die munisipale bestuurder, Trevor Botha verlede maand gewaarsku het gaan gebeur as inwoners nie hulle waterverbruik inkort nie.
Hy het vandeesweek gesê die vlak 2B-beperkings wat op 1 Junie van krag geword het, het 'n minimale uitwerking op verbruik gehad - van 30 megaliter per dag in Mei tot 28 megaliter in Julie. Boonop het dit baie min gereën.
"Ingevolge die munisipale droogtebestuursbeleid skop vlak 2C-beperkings in wanneer die damvlak 45% bereik. Ons hoop dat noodtariewe die verwagte effek sal hê en dat verbruik sal verminder."
Die munisipaliteit het verlede week bevestig dat die rioolwatersuiweringsaanleg sedert 14 June operasioneel is en ongeveer 7 megaliter per dag tot die dorp se watervoorraad toevoeg. Drie boorgate lewer ook sowat 2,2 megaliter per dag.
Volgens Chantel Edwards-Klose, mediakommunikasiehoof, sal huishoudings wat meer as 15 kiloliter per maand gebruik voortaan volgens 'n glyskaal meer per kiloliter betaal vir oorskryding van die maandelikse kwota.
"Besighede, ondernemings in die vermaakbedryf en ander gebruikers, van wie dit verwag word om verbruik met 15% te verminder, kan beboet word. Hulle sal bykomende kostes van 1,5 keer hul tarief betaal," het sy gesê.
Die implikasies van vlak 2 C-beperkings sluit in:
• Huishoudings word beperk tot 15 kiloliter per maand (vloeiverminderingstoestelle sal geïnstalleer word waar die perk oorskry word).
• Ander gebruikers, besighede en ondernemings in die vermaakbedryf moet verbruik verminder met 15% van hul gemiddelde verbruik oor die afgelope ses maande.
• Groot industrieë moet verbruik verminder met 10% van hul gemiddelde verbruik oor die afgelope ses maande.
• Tuine mag slegs met waterkanne of emmers natgemaak word, enige tyd van die dag.
• Die besproeiing/natmaak van ALLE sportvelde met munisipale water word verbied.
• Die was van voertuie met 'n tuinslang word verbied. Emmers is toelaatbaar.
• Die skoonmaak van enige buiteoppervlaktes deur middel van 'n tuinslang met munisipale water word verbied.
• Die opvul van swembaddens met munisipale water word verbied.
• Waar eie water uit 'n boorgat of opgaartenk gebruik word, moet 'n kennisgewing, 'EIE WATER', vertoon word. Munisipale beamptes mag bewys daarvoor vra.
• Noodtariewe vir nie-huishoudelike gebruikers (soos skole, ouetehuise, ens.) sal 1,5 keer meer wees as hul spesifieke gepubliseerde tarief soos opgeneem in die jaarlikse munisipale tariewelys.
Die munisipaleit versoek die publiek om waterlekke, gebarste pype en ander waterverwante probleme onmiddellik wanneer dit opgemerk word, aan te meld by die Siviele Ingenieursdepartement by 044 801 9262 of na-ure by 044 801 6300.
Oortredings van waterbeperkings kan aangemeld word by 044 801 6350.
"Herhaalde oortreders kan verwag om tot R4 000 per oortreding te betaal na gelang van die oortreding, of kan tronkstraf van tot ses maande ontvang met skuldigbevinding," het Edwards-Klose gesê.
Reën word voorspel
Komende naweek sal inwoners die lug hoopvol dophou. Weather SA voorspel reën vir vandag (30% kans), Vrydag (60% kans), Saterdag (80% kans) en Sondag (30% kans).
Kyk 'n video hieronder.
• Emergency tariffs and tougher water restrictions are going into immediate effect in George as the town’s main water supply, the Garden Route Dam, dropped to below 45% (44,82%) yesterday, Wednesday 2 August. The new section 2C restrictions limit household consumption to 15 kilolitres per month. Weather SA is predicting rain for today (30% chance), Friday (60% chance), Saturday (80% chance) and Sunday (30% chance).
Read the full report in English, 'Emergency tariffs, tougher restrictions as dam drops to 45%' here.
ARTIKEL EN FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD JOERNALIS
VIDEO: WESSEL VAN HEERDEN, GROUP EDITORS DIGITALE KOÖRDINEERDER
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'