GEORGE NUUS - SA for Hope (voormalige Water Warriors) het oorweldigende reaksie ontvang op 'n artikel in 'n onlangse George Herald waarin hulp gevra is vir droogtehulp vir boere in Die Bad-gebied ongeveer 40 km buite Oudtshoorn.
Die uitreik vind komende Saterdag 20 November plaas.
"Waar kan ek begin om dankie te sê? Mense het voorwaar na vore gekom. Ons het nou reeds 'n konvooi van 45 voertuie om die voer wat geskenk en in Oudtshoorn afgelewer is, te vervoer. Ongeveer 13 mense het my gekontak na aanleiding van die berig en van hulle het meer as een voertuig aangebied. Dit laat 'n mens goed voel om te weet ons gemeenskap staan saam en ondersteun ons boere en hul werkers in nood," het Pieter du Plessis, 'n direkteur van SA for Hope gesê.
Skenkings van nie-bederfbare kos, koffie, suiker, hondekos en voer soos mielies of droogtekorrels wat hoë proteïenwaardes het, word steeds benodig. Skenkings sal opgetel word by donateurs, of donasies kan by Tavcor George afgelaai word.
"Die boere en hul werkers is in groot nood. Vee en volstruise vrek. Hulle verkoop implemente en huisraad en daar is selfs mense wie se krag afgesny is en met verskriklike hoë kragrekeninge sit omdat daar vir sowat agt jaar al geen inkomste op die plase gegenereer kon word nie. Ons kan 'n verskil maak met die publiek en besighede se hulp. Laat ons maar die hoop wees vir hierdie mense," is Du Plessis se pleidooi.
Die reën wat onlangs in die gebied geval het, was nie genoeg om die veld te herstel nie.
"Die Karooveld het drie jaar nodig om ten volle te herstel. Ons moet onthou dit reën nie geld nie. Die boere is steeds in groot finansiële nood."
Mense wat wil skenk, kan Pieter du Plessis bel by 076 844 6435.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'