Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Eers het Johann Lerm, 'n verskil gemaak as rugbyafrigter en nou doen hy dit as skrywer. 'n Tweede boek, Grendelbrekers het pas uit sy pen verskyn. Dit is 'n opvolg van sy eerste boek, Breek die Grendels, wat verlede jaar in September verskyn het.
Die sukses van Breek die Grendels het selfs Lerm verbaas. Hy het aanvanklik gedink net sowat 150 boeke sou verkoop word, maar intussen is reeds meer as 'n 1 000 verkoop.
Lerm, een van George se bekendste inwoners en voorheen 'n suksesvolle afrigter van die SWD Arende, se eerste boek is 'n uitvloeisel van 'n blog, Geestelike Vitamines wat hy op 'n gereelde basis skryf.
Hy is ook predikant en radio-omroeper by SFM en het in grendeltyd begin skryf aan sy eerste boek. "Sedertdien het ek my reis met God aangeteken, ten einde Hom beter te verstaan. Saam met God is verskeie grendels ontsluit."
Hy het Maandag aan George Herald vertel met die skryf van die boeke probeer hy hoop aan mense gee. Hy het baie goeie terugvoering oor sy eerste boek gekry en sy tweede boek is 'n getuienis van hoop.
Volgens hom het mense se lewens op Vrydag 27 Maart 2020 vir altyd verander toe 'n nasionale staat van inperking aangekondig is as gevolg van Covid-19. Maskers, sosiale afstand en inperkingsmaatreëls was aan die orde van die dag.
Dit het 'n baie groot impak op mense se lewens gehad en so byvoorbeeld is daar sakeondernemings wat moes sluit. Dit het ook 'n impak op kinders gehad. Kinders kon nie aan sport deelneem nie en hulle moes maskers in klaskamers dra.
Dinge het intussen verander en daar is 'n post-Covid-tyd. Dis tyd om aan te beweeg, maar die gevolge van Covid is nog met mense en dit gaan nog lank so wees.
"Grendelbrekers volg op Breek die Grendels en vertel die stories van mense wat uitstaan as grendelbrekers ten einde ons te help om vry te kom van grendels wat ons bind en verhoed om ons volle potensiaal te bereik.
"Dit vertel ook stories van 'stil' grendelbrekers wie se identiteit onbekend is. Almal stories van hoop om ons te help om gelukkig en hoopvol te lewe."
Daar is verskeie stories in die boek en hy het self met van die mense onderhoude gevoer. Mense sal met hulle kan identifiseer.
Lerm het benadruk die boek gaan net oor God. Om Sy eer, Sy lof en Sy heerlikheid.
VIDEO: Johann Lerm skryf nog 'n boek
Wat bygedra het tot die sukses van die eerste boek is dat PNA in George en Oudtshoorn dit op hul rakke gehad het. Hy glo ook die boeke se sukses is omdat mense hoop wil hê. "God wou ons nie straf met Covid nie, Hy is lief vir ons."
Hy beplan reeds 'n derde boek, maar het bygevoeg dit is harde werk om so 'n boek te skryf. Alleen sou sy eerste twee boeke nooit verskyn het nie.
"Dit sou nie moontlik gewees het sonder Sela-uitgewers en De Goede Finance Universe wat 'n tak in Mosselbaai het nie."
Johann Lerm met sy nuutste boek, Grendel-brekers. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'