Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As dinge volgens plan verloop, sal mense uiteindelik van Uniondale tot by Mosselbaai en vandaar tot by Kaap Agulhas kan stap as deel van die Pelgrimstog van Hoop.
Dit het Maandag 5 Julie bekend geword nadat die eerste formele groep stappers op Sondag 4 Julie 'n roete van Uniondale tot by die St. Blaise-ligtoring in Mosselbaai voltooi het.
Dit is baie gebaseer op die Camino de Compostela-staproete in die noorde van Spanje wat jaarliks groot getalle besoekers van oor die wêreld lok.
Sedert George Herald verlede week die eerste keer daaroor berig het, is oorweldigende positiewe reaksie ontvang. Die groep stappers het op 25 Junie in Uniondale begin en het Vrydag 2 Julie hul staptog van Herold tot by die ou tolhuis aan die voet van die Montagupas by George voortgesit. Later die dag het hulle tot by Geelhoutboom gestap. Hulle was vir die deel vergesel van belanghebbendes in die omgewing.
Theo Adams (links) gemeenskapsleier en Erns Grundling van die TV-program, Elders Vrydag op pad na die ou tolhuis. Foto: Eugene Gunning
Kyk 'n video hieronder:
Ds. Gert Nothnagel, leraar van die NGK Herold-gemeente, het gesê hulle is gereed om aanstaande week die volgende groep stappers te ontvang.
"Ons is tevrede dat die eerste formele groep die staptog voltooi het. Ons het aanbevelings van die groep ontvang en sal die nodige veranderings implementeer."
Die totale afstand beloop meer as 260 km en die plan is om ook korter opsies as die 14 dag roete aan te bied.
Dr. Frederick Marais van Stellenbosch, wat in 2012 met die idee van pelgrimstogte in die Kaap begin het, het gesê daar is reeds twee ander roetes in die Kaap. Van Kaappunt tot by Kaap Agulhas en van Robertson tot by Kaap Agulhas.
In 2014 was hy betrokke by die eerste verkennende staptogte en later het die twee roetes tot stand gekom. Hy en ander belanghebbendes het hul kennis gedeel met die mense wat betrokke is by die roete in die Suid-Kaap. Dit is alles deel van die Pelgrimstog vir Hoop en 'n netwerk van pelgrimstogte in die Wes-Kaap wat almal eindig by die suidpunt van Afrika (Kaap Agulhas).
Die deel van Uniondale tot by Mosselbaai is die eerste fase in die gebied. Dit word in die vooruitsig gestel dat nog 'n fase van die roete sal loop van St. Blaise tot by Kaap Agulhas as deel van die netwerk.
Nog video's:
Theo Adams, gemeenskapsleier en ontwikkelaar van die Herold Meander, het gesê stappers sal 'n fisieke en geestelike vervulling uit die roete kry. Hy het Vrydag van Herold tot by die ou tolhuis gestap. Die roete sal help met Agri-toerisme in die gebied en die plaaslike ekonomie stimuleer.
Vir meer inligting kontak Nothnagel by 082 829 5407 of stuur 'n e-pos aan gardenroutewalk@gmail.com.
Reaksie van stappers
Dr. Frederick Marais wat verlede week die hele roete enduit saamgestap het, het gesê elke roete het sy eie karakter. Pelgrimstogte word gestap in mooi natuurskoon en in omgewings wat ryk is aan geskiedenis. Voorts op toeganklike paaie waarop mense veilig en rustig kan stap.
Wat vir hom uitgestaan het op die roete is die veiligheid, die natuurskoon en die oorweldigende gasvryheid van die mense. "Ek is oortuig dat die 'n baie gewilde roete vir stappers gaan wees." Wat ook vir hom opvallend was, is die bereidwilligheid van al die rolspelers om saam te werk. Erns Grundling van die TV-program, Elders en ook 'n skrywer, het gesê dis beslis 'n pelgrimstog. Nie net is daar 'n geestelike aspek nie, maar daar is ook die ruimte van die omgewing wat geleentheid bied om kop skoon te maak en selfondersoek te doen. Langs die roete was die gasvryheid van mense in oormaat.
Volgens hom vergelyk dit goed met ander soortgelyke roetes wat hy al gestap het.
Le Roux Schoeman, redakteur van die Kerkbode, het gesê dit was die eerste keer dat hy so-iets gestap het. Die groep was baie gelukkig met die weer. Daar was nie besonder baie wind of reën nie.
Vir hom was dit in die algemeen opvallend hoe vriendelik en gasvry die mense langs die roete was.
Hy sou dit aanbeveel vir mense wat iets anders wil doen. Dis 'n lang tyd wat mens van die werk af is en jy kan ontspan. Jy moet stapfiks wees. As hy weer die geleentheid kry, sal hy dit weer doen. Volgens hom was daar 'n geestelike element op die staptog. "Mens is naby die natuur en besig met jou eie gedagtes."
Le Roux Schoeman (links) Frederick Marais, Petrus Carstens, Philip Herholdt en Erns Grundling Sondag by die eindpunt in Mosselbaai.
Overwhelming reaction was received after it became known that hikers can now walk a route in the Garden Route that is based on the famous Camino de Compostello in northern Spain. The route in Spain attracts visitors from all over the world every year. The first formal group finished the local route, from Uniondale to Mossel Bay, on Sunday 4 July. The plan is that this will become part of similar pilgrimage routes in the Western Cape that all end at Cape Agulhas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'