Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - George se eerste 'July' het Saterdag 2 Julie vir groot opwinding gesorg. Nie eers beurtkrag kon die toeskouers se geesdrif demp nie en die dag was so suksesvol dat die perdjies weer aanstaande jaar sal galop.
Die geleentheid by die George Riding Club is geskoei op die jaarlikse July-perdewedren wat Saterdag in Durban plaasgevind het... met so 'n klein verskilletjie.
In George kompeteer stokperdjies teen mekaar en nie renperde nie, maar getrou aan die July-tradisie het toeskouers spoggerig aangetrek en die besgekledes het pryse ontvang.
In baie mense se agterkoppe was die opbou na die rugbytoets tussen Suid-Afrika en Wallis en 'n aantal gaste het Springboktruie gedra.
Geld is vir die Seven Passes Initiative ingesamel en Wilmi Dippenaar, direkteur van die inisiatief het gesê almal het die George July geniet. "Ons weet nog nie presies hoeveel geld ingesamel is nie, maar dit was soveel pret. Almal wat die geleentheid bygewoon het, het gesê hulle sal volgende jaar weer daar wees."
Dippenaar sê 110 kaartjies is verkoop en 35 stokperde het aan die uitdunwedrenne deelgeneem.
VIDEO - George se eie July groot sukses (Video: Eugene Gunning)
Daar is eers net vyf wedrenne beplan, maar halfpad deur die dag is 'n verrassingswedloop gehou waar toeskouers mekaar kon uitdaag.
In die finaal het die wenners van die ses wedrenne mekaar oor 'n afstand van 300m uitgedaag met die hulp van professionele atlete.
Dippenaar sê die mark is vanjaar getoets en die plan is om die July volgende jaar uit te brei. "Die geld wat ingesamel is sal gebruik word vir basiese uitgawes wat ons vyf programme meebring soos huur, krag, telefoon, brandstof, salarisse en toerusting."
Enige sakeonderneming of individu wat betrokke wil raak by volgende jaar se George July kan haar kontak by 072 673 4346.
Een van die perde rus ‘n bietjie. Foto’s: Eugene Gunning
Vorige artikel: George se eie "July"
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'