GEORGE NUUS - Die herrie wat losgebars het ná die konstitusionele hof verlede Woensdag, 18 September, beslis het dat lyfstraf nou onwettig in Suid-Afrikaanse huise is, wil maar net nie bedaar nie.
Volgens die nuwe wet is enige vorm van lyfstraf, insluitend die 'goeie ou pak slae', 'n klap op die boud of enige ander vorm van fisieke dissiplinering van kinders, onwettig.
Betoog teen wysiging
Sommige instansies en ouers het die wysigingswetsontwerp verwelkom, maar ander individue en organisasies maak sterk kapsie.
Die beslissing het 'n vloedgolf kommentaar op sosiale media ontlok en die Bybel word ook kort-kort aangehaal.
'n Ouer kan gearresteer en vervolg word vir aanranding en indien skuldig, sal dit nie net 'n lewenslange kriminele rekord tot gevolg hê nie, maar kan die kinders uit die gesinshuis verwyder word.
'n Onderwyser in Suid-Afrika het glo reeds 'n pa aangekla na dié gehoor het hoe 'n leerder aan 'n maatjie sê haar pa het haar drie houe gegee. Daar is ook vrese dat ouers die nuwe misdaad in die egskeidingshof teen hulle toekomstige eks kan misbruik.
Redelike tugtiging
Die hele petalje spruit uit die interpretasie van "redelike tugtiging". Terwyl 'n raps met die plathand vir die meeste mense redelik is, is daar ouers wat die gordel inspan tot die bloed loop.
Dus het die departement van maatskaplike ontwikkeling besluit om hierdie saak ter tafel te lê om 'n volledige verbod op die fisieke dissiplinering van kinders te bewerkstellig.
Lyfstraf
Volgens die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) word lyfstraf gedefinieer as enige doelbewuste handeling teen 'n kind wat pyn of fisiese ongemak veroorsaak om hom/haar te bedwing. Dit sluit in, maar is nie beperk nie, tot die klap, knyp of slaan van 'n kind met die hand of enige ander voorwerp, ontsegging of beperking van 'n kind se gebruik van die toilet, ontsegging van etes, vloeistof, hitte en skuiling, stoot of trek van 'n kind met geweld, dwing van 'n kind om oefeninge te doen.
Dit is dus nie net om 'n kind met 'n lat te slaan nie, maar verwys ook na 'n aanval op 'n persoon (leerder) op enige ander wyse.
Aanranding
Aanranding word deur die onderwysdepartement as volg definieer: Die wederregtelike en opsetlike toepassing van geweld op die liggaam van 'n ander persoon of bedreiging of onmiddellike persoonlike mag op 'n ander persoon in omstandighede waar die bedreigde persoon glo dat die persoon wat hom/haar dreig, die bedoeling en mag het om die dreigement uit te voer. Selfs 'n dreigement om 'n persoon aan te rand, word dus ingevolge die wet as aanranding beskou.
Lyfstraf vs aanranding
Soos aangedui in die definisies hierbo, is dit duidelik dat alle vorme van lyfstraf by implikasie as 'n daad van aanranding beskou sal word. Dit behoort verstaan te word dat die WKOD in alle gevalle van lyfstraf dissiplinêre aksie sal neem asof dade van aanranding gepleeg is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'