GEORGE NUUS - Ná vier weke se intensiewe beoordeling is die organiseerders van die George-eisteddfod in hul noppies met die groot getal inskrywings van verskeie skole, die algehele kwaliteit van bydraes, asook die kwaliteit afrigting wat deelnemers van hul bekwame afrigters ontvang.
Die afdelings het vanjaar sang, instrumen-tale musiek, drama en kuns ingesluit.
'n Wye verskeidenheid instrumente is beoordeel, waaronder klavier, kitaar, blokfluit, dwarsfluit, trompet, saksofoon, eufonium, tuba, viool, klarinet, tromboon en marimbas.
Vokale deelnemers, vokale ensembles en kore het hul vernuf in verskeie sangkategorieë ten toon gestel het. Drama-inskrywings het ongedramatiseerde en gedramatiseerde poësie, monoloog, spreekkoor en onvoorbereide improvisasie op 'n tema wat die beoordelaar 'n halfuur vóór deelname beskikbaar gestel het, ingesluit.
Deelnemers van die visuele kunsafdeling se werke is verlede naweek beoordeel en word tans vir die publiek by Glenwood House tussen 11:00 en 14:00 ten toon gestel. 'n Virtuele kunsuitstalling van alle inskrywings word ook vandeesweek op sosiale media vrygestel.
Begeleidingskuns
'n Interessante instrumentale kategorie is vanjaar vir die eerste keer aangebied, naamlik begeleidingskuns, waar 'n deelnemer vir 'n sanger (wat nie beoordeel word nie) deur al die nuanse van 'n lied op die klavier begelei.
Vanjaar se beoordelaars was Vanessa-Tait Jones (vokaal), Christopher Petrie (instrumentaal), Margo Wood en Ilze Tulleken (drama), Diane Rossouw (kuns) en Hilde van der Meulen (marimbas).
Die vokale en instrumentale gala-aand vind op Donderdag 31 Augustus by die kerksaal van die NG Moedergemeente om 18:00 plaas, en die drama gala-aand om Woensdag 13 September by die George-kunsteteater.
Volgende jaar voeg die George-eisteddfod dans en skryfkuns tot sy portefeulje by. Hulle doen tans aansoek om finansiering om alle gemeenskappe en skole die geleentheid te bied om talentvolle kinders by beoordeling in te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’